Vergeet van ander, vergewe jouself en leef dankbaar

“Ek wil vreugde in mense se lewens bring sodat hulle energiek is, positief leef en bemagtig voel om die wêreld in die oë te kyk en die beste te wees waartoe elkeen in staat is,” is die opsommende boodskap van Leandie du Randt Bosch wat haar hart met vroue gedeel het tydens DDKK Prokureurs se …

“Ek wil vreugde in mense se lewens bring sodat hulle energiek is, positief leef en bemagtig voel om die wêreld in die oë te kyk en die beste te wees waartoe elkeen in staat is,” is die opsommende boodskap van Leandie du Randt Bosch wat haar hart met vroue gedeel het tydens DDKK Prokureurs se Vrouedagoggend.
Die bekroonde aktrise, skrywer, TV-aanbieder, eienaar van ‘n spesiale klerereeks en motiveringspreker meen dit waarvoor sy in die vermaaklikheidswêreld bekend is definieer nie wie sy is nie, eerder haar verhouding met haar medemens en God en die feit dat sy gekies het om met dankbaarheid na elke situasie te kyk en struikelblokke in haar lewe na boublokke te verander.
Na matriek het sy ‘n honneursgraad in bedryfsielkunde behaal om iets te hê om op terug te val, maar ‘n dramakursus wat haar prys as wenner van ‘n skoonheidskompetisie was, het haar lewe verander omdat sy tuis in die drama-industrie is en weet dat dit God se plan vir haar lewe is.
Sy vertel hoe klein en onbenullig sy gevoel het omdat sy op skool so geboelie is en hoe haar lewe verander het toe haar pa die dag sê: “Mense wat onseker, jaloers en geïntimideer is skinder en kraak ander af omdat hulle jou na hulle vlak wil aftrek.
Bons terug, doen introspeksie en laat jou vlam hoër as voorheen brand.
Seën hulle in jou hart, bid vir hulle en help hulle om die vroue te wees wat hulle kan wees en ook gelukkig soos jy te word want gelukkige mense maak ander gelukkig. En beweeg aan.”
Raad aan vroue
Verander wat jy kan en waarvan jy nie hou nie
Doen wat jy kan om jou voorkoms te verander en jouself te respekteer. Versorg jou, trek goed aan, doen moeite met jou voorkoms en eet gesond.
Identifiseer jou gevoelens
Wie is jy binne? Identifiseer jou gevoelens, emosies, wat jou laat goedvoel, wat jy van jouself dink.
Wees altyd jouself en daag op by jou eie lewe sodat God jou kan seën as jy ‘n persoonlike verhouding met hom het. Identifiseer dit wat jou verhoed om te wees wie jy is. Indien dit onverwerkte bagasie uit die verlede is, kry hulp sodat God toegang tot jou hart kan kry. Jy sal steeds probleme ervaar, maar weet dat God in beheer is en dat die lewe met ons almal gebeur, goed of sleg. Ons reaksie bepaal wie ons binne is.
Leef dankbaar
Dankbaarheid en vrede gee mens energie. Spreek lewe uit oor mense en vermy negatiwiteit en woede.
Hoe pas ek dit toe?
Herprogrammeer jou denke en gevoelens om in alle situasies dankbaar te wees en spreek positiewe gevoelens uit en verbly jou. Skryf vir 21 agtereenvolgende dae tien verskillende goed neer waaroor jy dankbaar is, al is dit hoe klein. Só vestig jy ‘n blywende gewoonte.

Storie en foto’s: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Nadia Bezuidenhout, Marie Prinsloo en Sonja White, agter, het die oggend terdeë geniet.
Die personeel van DDKK tydens Vrydag se funksie.
Ronel Malan en Leandie du Randt Bosch met ‘n getekende boek van Bosch, Gemaklik in jou eie Lyf.
Gaste, Edwinah Raphael, Samantha Fortuin en Christina Mandelkorn.
Exit mobile version