Mokopane boer se diere vergiftig

Gerlo Hennings (20) sê dat sy familie word die afgelope drie maande erg geteister deur booswigte

MOKOPANE – ‘n Jong boer van Mokopane, leef in vrees nadat sy geliefde perd, ‘n hond en ook van die bokke op die plaas vergiftig is.

Gerlo Hennings (20) sê dit is net hy, sy broer en sy pa wat op die plaas woon en hulle word die afelope drie maande erg geteister deur booswigte.

“Ek het Saterdagoggend vroeg uitgegaan en agtergekom twee van ons honde is weg. Ek het die een hond dood by die bokke se waterbak gekry en daar het skuim by sy bek uitgekom. Ons ander hond, ‘n Jack Russel, is steeds weg. Ons vermoed hy het iewers in die veld gaan lê en daar dood gegaan, want dit is nie in sy geaardheid om so lank weg van die huis te wees nie.”

Hennings vertel hy het opgemerk daar is fout met sy perd, Silvestor, en kon sien die dier is in erge pyn.

“Die perd was baie onrustig en het net ‘n paar treë geloop en dan gaan lê, net om rond te rol en weer op te staan en weer te gaan lê. Ek kan sien hy is in soveel pyn en ek weet nie hoe om hom te help nie.

“Silvestor is nog my hele lewe deel van my. Hy het op 10 Julie verjaar en is 20 net soos ek. My verjaardag was op 30 Julie. Dit breek my hart om hulpeloos langs hom te staan.”

Hennings vertel afgesien van die twee honde en sy perd wat gif ingekry het, is daar ook een van sy bokke dood.

“Daar is ook die afgelope maande vier bokke gesteel. Ons kry gedurig vreemde spore om ons huis en by die bokke se kampe.”

Hennings sê dr. Henk Visser,’n Veearts van Mokopane, het Silvestor kom ondersoek en volgens hom het die perd Temic ingekry.

“Die booswigte het dit heel moontlik in die diere se waterbakke gegooi. Gelukkig het ek Saterdagoggend die waterbakke uitgegooi en skoonwater ingegooi. Visser sê Silvestor sal oorleef en hy is dankbaar.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version