Local NewsNews

Polisieman wat dagga in tronk smokkel se turf sit

‘n Polisieman wat as ordonnans in die Man­kweng landdroshof dien sou na verwagting gister (Woensdag) in die Polokwane landdros­hof verskyn het nadat hy Dinsdag dagga vir ‘n gevangene by die Polokwane Korrektiewe Sentrum probeer insmokkel het. Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, sê die 47-jarige polisieman is met 143,99 gram dagga betrap en is …

‘n Polisieman wat as ordonnans in die Man­kweng landdroshof dien sou na verwagting gister (Woensdag) in die Polokwane landdros­hof verskyn het nadat hy Dinsdag dagga vir ‘n gevangene by die Polokwane Korrektiewe Sentrum probeer insmokkel het.
Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, sê die 47-jarige polisieman is met 143,99 gram dagga betrap en is net daar en dan in hegtenis geneem. Hy was glo by die sentrum om verhoorafwagtende gevangenes na die hof te vervoer toe hy aangekeer is.
Die departement van korrektiewe dienste se hoof operasionele offisier, Mandla Mkabela, sê ‘n tronkbewaarder het die adjudant-offisier op heterdaad betrap en die polisie het onmiddellik reageer. Die dagga was glo slegs vir ‘n enkele gevangene bestem.
Mandla het die tronkbewaarder vir sy uitstekende diens bedank en gesê dit is wat van tronkbewaarders verwag word. Hy het ook besoekers aan die sentrum gemaan om nie onwettige items te probeer insmokkel nie.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Le­dwaba het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê daar word van lede in blou verwag om altyd eerlik te wees omdat die publiek veronderstel is om na hulle op te kyk wanneer dit by misdaadbekamping kom.
Polokwane Observer het vroeër vanjaar ‘n berig gedoen oor die smokkel van onwettige items na gevangenes. Benewens oorbevolking is dit een van die grootste uitdagings by die sentrum.
Twee besoekers is onlangs oor ‘n naweek gearresteer nadat hulle dagga in uitgeholde lemoene of selfs in hul geslagsdele ingesmokkel het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button