ATKV-Spelathon lok deelnemers van ver

Die ATKV-Spelathon se provinsiale finaal wat Maandag by Mitchell House gehou is, het deelnemers op hul tone gehad en toeskou­ers het met ingehoue asems geluister hoe die spellers elke woord duidelik uitspel en herhaal. Leerders van laerskole Pietersburg-Oos, Thabazimbi, Julian Muller in Groblersdal en Dr Annecke Primary van Letsitele en hoërskole Warmbad, Merensky van Tzaneen, …

Die ATKV-Spelathon se provinsiale finaal wat Maandag by Mitchell House gehou is, het deelnemers op hul tone gehad en toeskou­ers het met ingehoue asems geluister hoe die spellers elke woord duidelik uitspel en herhaal.
Leerders van laerskole Pietersburg-Oos, Thabazimbi, Julian Muller in Groblersdal en Dr Annecke Primary van Letsitele en hoërskole Warmbad, Merensky van Tzaneen, Frans du Toit van Phalaborwa en Mitchell House het deelgeneem.
In die graad 6 tot 7-afdeling (Afrikaans
huistaal) was Vinette du Plessis van Laer­skool Julian Muller die wenner, gevolg deur Ramona van Heerden van Laerskool dr Annecke en Izelna Venter van Laerskool Pietersburg-Oos, onderskeidelik in die tweede en derde plekke.
In die Afrikaans eerste addisionele taal-onderafdeling is al drie wenners van Laerskool Julian Muller.
Leerders het in groepe op ‘n uitklopbasis in die huistaal- en eerste addisionele taalafdelings deelgeneem en daar was twee onderafdelings woorde in elke groep. In die eerste onderafdeling het spellers woorde van ‘n lys gekry en in die tweede afdeling is nommers getrek om te bepaal welke deelnemers elke woord kry.
Beoordelaars, Anet Law van Mookgo­phong, Juliana Kruger van Louis Trichardt en plaaslike leraar Sarel Venter, moes hulle ore spits terwyl die deelnemers hulle vernuf en kennis op die proef gestel het en die korrekte spelling van woorde soos e-posse, kokkerot, naellak, prieël en monnike het geen probleem gebied nie.
Die kaf is egter gou van die koring geskei en deelnemers wat ego’s, gereëlde, bearbei en verbale verkeerd gespel het, moes gou by hul maats in die gehoor aansluit.
Volgens René Zietsman, wat die spelathon gereël het, word die ATKV se nasionale spelathon op 12 Oktober in Stellenbosch gehou.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

Exit mobile version