Veldbrand op verwoes hele oes

Moontlike brandstigting was waarskynblik die oorsaak dat die plaas waar Chrissie du Plessis op Sterkrivier woon verlede Maandag afgebrand het.

LIMPOPO – Chrissie se swaer, Dries Stapelberg, het by haar gekuier toe die brand uitbreek.

Dries vertel hy het drie verdagtes in die hoofpad gesien loop maar nie aggeslaan op hulle kleredrag en hoe hulle lyk nie.

“Kort na ek die verdagtes gesien het, het die veld langs die hoofpad begin brand by twee afsonderlike plekke. Die gras en veld is droog en die vlamme het net gehardloop. Ek het lanklaas sulke hoë vlamme gesien en was vir ‘n oomblik baie benoud toe ek sien die vlamme gaan na die huis se kant toe. Gelukkig het die gemeenskap gou kom help en kon ons daarin slaag om die vuur te blus voor dit by die huise was.”

Die brand het alles verwoes so ver as wat die oog kan sien.

Dries vertel Chrissie se familie het verlede jaar baie geld belê in die opbouing van die plaas en ‘n hele besproeingsstelsel aangebring. Die skade wat die brand aangerig het, beloop honderd duisende Rande. Chrissie se kleinseun, Bennet Pelser en sy vrou, Tanya boer met knoffel en uie op die plaas. Tanya vertel hulle vermoed dat die brand gestig is om hulle te intimideer.

“Ons hele oes is verwoes en ons voel onveilig op die plaas. Ek dink nie ons sal weer teruggaan om te gaan boer nie, die verlies is vir ons net te groot.”

Chrissie sê sy het altyd alleen op die plaas gebly, maar deesdae voel sy nie meer veilig nie.

“Ek kan nie meer alleen hier bly nie, ek sukkel om in die dorp aan te pas, maar wat kan ek doen. Hier is dit nie meer veilig nie en my kinders wil nie hê ek moet so alleen bly nie.”

Marcelle Maritz, Limpopo Leier van Vryheidsfront Plus sê dit is hartseer dat die land so een vir een sy boere verloor. Dit gee ook die ekonomie ‘n lelike knou. My hart gaan uit aan die familie en Vryheidsfront Plus het ook vir die familie hulp aangebied.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version