Local NewsNews

Robin Good inisiatief help dié wat min het

Die ekonomie druk elke dag 'n bietjie meer en oral moet 'n mens jou sente meer as net die gebruiklike twee keer omdraai.

POLOKWANE – Mense wat baie gehad het, het nou minder en die wat min gehad het, het feitlik niks nie. Jare terug was daar die storie van Robin Hood, wat by die rykes gesteel het om aan die armes te gee, en in Polokwane is Robin Good aan die werk om hulp te verleen aan behoeftiges.

Marianne Kleynhans is die bestuurder van die tak hier, met ‘n hoofkantoor in Johannesburg, en vertel dat hulle kos en klere asook komberse en linne na organisasies versprei wat dit dan weer op hul beurt uitdeel aan mense in nood.

“Alle voorraad en donasies wat ontvang word, word op ‘n deeglike wyse geadministreer en die verspreiding van alle vars kos word so gedoen dat daar geen vermorsing plaasvind nie. Ons doen self die herverpakking waar nodig.”

Een van die plekke wat ondersteun word is die karavaanpark op die Geloftefees kampterrein. Hier is 10 gesinne wat in houthuise bly.

“Dit is belangrik dat mense weet hierdie is nie ‘n toevlugsoord of ‘n skuiling nie. Hierdie mense het almal werk en is tot ‘n mate selfonderhoudend.

“Hulle salarisse is te klein en dus raak ons betrokke. Hulle betaal huur en word streng gekeur voordat hulle hier kan bly,” verduidelik Marianne.

Sy vertel dat hul mees drukkende probleem op die oomblik ‘n gesin van drie mense is wat in ‘n tweevertrekhuis ingetrek het.

“Hul meubels en 13-jarige dogter bly in die huis terwyl die ouers in ‘n tent buite slaap. Dit is baie koud en hulle is dus besig om die huisie groter te maak. Daar is reeds ‘n vloer gegooi en pale geplant vir nog twee vertrekke.”

Daar is nog baie materiaal wat benodig word om die huis klaar te maak en die bestuur wil graag nog ‘n paar ander huise op die terrein vergroot.

“Ons hou nie daarvan om te bedel vir wat ons wil hê nie, en bid eerder. God stuur altyd wat nodig is.”

Marianne vertel dat hulle nie net kos en klere gee nie, maar ook pastoriale berading. “Ons wil die mense leer om selfonderhoudend te wees en ons wil hulle help om weer menswaardig te voel. Dit gaan nie vir ons soveel oor die kos as wat dit gaan oor die persoon nie.”

Sy vertel dat haar man, Phillip, die opknappingswerk doen en ook nou besig is met die bouwerk. Hy kort egter nog handearbeid om vinniger klaar te maak.

“Die mense wat hier bly is goeie mense wat net deur die lewe platgeslaan is. Ons probeer hulle net help.”

Enige iemand wat ‘n bydrae wil maak, kan vir Marianne by 083 534 3641 kontak.

Die Robin Good Initiative is geregistreer as ‘n instansie sonder winsbejag en dus kan belastingsertifikate uitgereik word.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button