Limpopo melkery lei skade na Pta-vliegongeluk

Moorddrift Melkery buite die dorp is onlangs erg ontwrig nadat 'n vliegtuig op Dinsdag, 10 Julie geval en die melkery se pakhuis in die Derdepoort-omgewing in Pretoria getref het.

MOKOPANE – Benewens een passasier wat dood is en 19 beseer, is daar ook agt werknemers van die melkery beseer waarvan vier in ‘n ernstige toestand is.

Dié Convair 340 vliegtuig het Moorddrift Melkery se pakhuis in Pretoria getref. Inlas: ‘n Vernietigde Moorddrift Melkery pakhuis.

Cathy Moyes, Personeelbestuurder van Moorddrift Melkery, sê een van die werkers het ernstige brandwonde opgedoen en is steeds in die intensiewesorgeenheid terwyl ‘n ander 20-jarige sy bene onder die knieë verloor het. “Een van die werknemers het ook sy tande los geval en nog ‘n werknemer het rug- en nekbeserings opgedoen toe ‘n dieseltenk bo-op hom beland het.”

Lees meer oor die ongeluk hier:

Stephen Smit, Mede-eienaar van Moorddrift Melkery, sê: “Toe ons daardie Dinsdagmiddag ‘n oproep uit Pretoria kry het ek en een van my kollegas, Jacqueline Stander (Finansiële Bestuurder) dadelik deurgery. Met ons aankoms was dit chaos. Benewens die feit dat ons werknemers deur hierdie traumatiese gebeurtenis moes gaan, moes ons ook inderhaas ‘n ander perseel kry om met produksie voort te kon gaan.

“Ons het gelukkig teen Woensdagmiddag ‘n ander perseel in Rosslyn gevind, maar het toe reeds twee dae se werk verloor. ‘n Gedeelte van die yskas is ook beskadig en ons het baie produkte verloor wat ons inkomste verminder.

“Ons eerste prioriteit is nou net om die nuwe pakhuis aan die gang te kry. Ons is baie dankbaar vir ons werknemers wat hulle alles insit om die maatskappy aan die gang te hou”.

Volgens Stander moes die meeste werknemers ook verhuis om nader aan die nuwe pakhuis te wees.

“Toe ons destyds met die pakhuis begin het, het ons behuising vir die werknemers daar naby voorsien. Rosslyn is heelwat verder wat beteken dat die werknemers moet verhuis omdat hulle skofte werk.”

Sy sê toe die vliegtuig geval het, het hy skuins deur die pakhuis geval. Sy een vlerk het ‘n kragdraad getref wat ‘n vuur veroorsaak het. Volgens dit wat ek gesien het lyk dit of die meeste werknemers seergekry het weens die metaalstukke wat oral geval het. Ek wil net baie dankie sê aan veral ER24 sowel as al die ander ambulansdienste wat spoedig kom help het, Ronel de Beer wat ingespring het met traumaberading, Imperial Truck Rental wat gehelp het met vervoer van werknemers, asook die Suid-Afrikaanse Lugvaartowerheid se Frans Malose wat help met die ondersoek.”

Volgens ‘n verklaring deur die Lugvaartowerheid het die Convair 340 vliegtuig, wat aan Rovos Rail Tours behoort, op Wonderboom Lughawe vetrek om op Pilanesberg te land.

Volgens verskeie ooggetuies wat ook video’s geneem het wat op sosiale media die rondte doen, was daar rook toe die vliegtuig opstyg.

Een van die passasiers het ook ‘n video van binne die vliegtuig geneem wat die ongeluk wys.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version