Solidariteit staan studente by met beurse

Die Solidariteit Helpende Hand se Limpopo-streek het tans 16 fondse waarmee daar gehoop word om die studiedrome van inwoners te bewaarheid.

POLOKWANE – Die #FeesMustFall-beweging het opnuut klem gelê op die koste van tersiêre studies. Jongmense wat graag na skool wil studeer moet hard werk vir beurse of lenings aangaan om vir hul studies te betaal.

Vir jongmense wat in 2019 wil studeer, is daar nou goeie nuus. Die Solidariteit Helpende Hand se Limpopo-streek het tans 16 fondse waarmee daar gehoop word om die studiedrome van inwoners te bewaarheid.

Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) help studente wat nie tersiêre studies kan bekostig nie om (deeltyds of voltyds) met ‘n gedeeltelik rentevrye studielening aan enige geakkrediteerde tersiêre instelling te studeer.

Een student wat so gehelp is, is Johan Becker, wat nou ‘n tweedejaar LLB-student by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus is. “Ek glo nie ek sou gaan studeer het as dit nie vir die lening van Solidariteit Helpende Hand was nie,” vertel hy.

Johan Becker

Lizani Hugo wat nou reeds in haar derde jaar by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus studeer vertel dat sy onderwys studeer.

Lizani Hugo is een van die studente wat met die hulp van Solidariteit Helpende Hand se rentevrye lenings kan nastreef.

“Ek studeer grondslagfase en het ‘n groot liefde vir kinders. Ek het myself nog altyd as ‘n juffrou gesien.”

Volgens Marianthie van der Walt, die Streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand se Limpopo-streek, is dit die plaaslike takke se missie om eendag te verseker dat almal wat wil studeer, dit wel kan doen.

“Helpende Hand se rentevrye studielenings gee toekomshoop en ‘n geleentheid om die armoedesiklus te verbreek. Hoe meer ons saamstaan om ons studente te help en vir hulle ‘n toekoms te gee, belê ons uiteindelik ook in die toekoms van ons land.

“Ons wil voornemende studente, wat nie weet hoe hulle hul studies gaan betaal nie, aanmoedig om aansoek te doen. Die sluitingsdatum vir aansoeke by die meeste universiteite is 30 September (aansoeke by Akademia sluit 31 Desember). Indien studente by Sol-Tech wil inskryf vir Januarie 2019 kan julle aansoek doen vanaf 1 tot 31 Oktober 2018. Landwyd administreer die SFS tans 240 onafhanklike studiefondse ter waarde van ongeveer R164 miljoen waarmee ons vanjaar meer as 1 300 studente met rentevrye studielenings help. ‘n Totaal van meer as R164 miljoen is die afgelope nege jaar in die vorm van rentevrye studielenings aan studente uitbetaal.

Indien daar enigiemand is wat belangstel om betrokke te raak by die groei van Limpopo se studiefondse, is hulle welkom om Marianthie van der Walt vir meer inligting te kontak op (014) 743 1050, 082 741 7858 of stuur ‘n e-pos na marianthie@helpendehand.co.za.

Om aansoek te doen, besoek vandag nog www.studiefonds.co.za.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version