Local NewsNews

Banau groet die muni na 23 jaar

Na 23 jaar in diens van die Polokwane Munisipaliteit, verruil Leon Banau sy publieke sektor skoene vir iets meer privaat.

POLOKWANE – Na al die jare gaan sy gesig gemis word by funksies en byeenkomste by beide die Peter Mokaba Stadion en die Peter Mokaba Sports Complex waar hy verantwoordelik was vir al die veiligheidsreëlings en om te sorg dat byeenkomste seepglad verloop.

Leon spog deesdae daarmee dat hy meer tyd saam met sy gesin kan deurbring en ‘n heel ander mens is.

“Dit is tyd dat ek iets ander doen wat my op ander maniere uitdaag, daarom is ek nou ‘n konsultant vir verskeie organisasies en besighede waar hulle van al my kennis in risikobestuur en sportbestuur onder andere gebruikmaak,” vertel hy.

Leon was ook ‘n bekende gesig by wedlope in die stad en dit is iets wat hy sê hy nooit sal opgee nie.

“Ek gaan steeds hardekwas langs die pad staan en seker maak dat die wedrenne en padwedlope goed verloop en dat almal by die reëls hou,” skerts hy.

Hy spog self met twee rekords wat hy in die o/19 seuns 3 000 m opgestel het wat steeds onverbeterd is sedert sy skooldae.

Wanneer hy nie besig is met werk nie, vertel Leon is hy besig met sy familie, atletiek en dan ook die Gemeenskapspolisiëringsforum Northern Upper Town (NUT) waar hy aangesluit het. Hier deel hy ook van sy kennis en maak seker dat dinge seepglad verloop.

Leon kyk met dankbaarheid terug op sy jare in die Polokwane Munisipaliteit en vertel dat hy die mense saam met wie hy so lekker gewerk het gaan mis maar dat dit tyd is vir hom om nuwe dinge te doen en ‘n bietjie rustiger te reaak. “Daar is so baie mense saam met wie ek gewerk het en wie saam met my ‘n pad gestap het, al wat ek aan elkeen kan sê is baie dankie vir hul hulp en ondersteuning om die afgelope 23 jaar ‘n sukses te kon maak.”

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button