Local NewsNews

Scio-terapie kyk natuurlik na jou lyf

"Die Scio-terapie is 'n manier om met frekwensies jou liggaam gesond te maak en jou bioritmes te stabiliseer," so vertel Morné Heyneke, Scientific Consciousness Interface Operations (SCIO) terapeut.

POLOKWANE – “Ek is net ‘n terapeut en nie ‘n dokter nie, dus mag ek nie mense diagnoseer of medikasie voorskryf nie,” vertel hy.

Met al die chemiese produkte wat vrylik op die mark beskikbaar is vir enige skeet en kwaal waaraan mens kan dink, beweeg baie mense terug na die meer natuurlike manier van genesing, soos homeopatie en SCIO.

Lees ook: Sy maak jou mooier, gesonder

“SCIO werk met jou liggaam se bioritmes en frekwensies. Ek kan jou met enige skeet of kwaal help, maar dit verg meer as een sessie en jy moet positief ingestel wees op die behandeling,” vertel hy.

‘n Voorbeeld van die SCIO-toerusting.

Morné vertel dat hy nie altyd ‘n SCIO-terapeut was nie, maar reeds 12 jaar dié terapie beoefen.

“My skoonsuster in Pretoria het my bekendgestel aan die terapie nadat ek sewe tot 11 keer in ‘n jaar antibiotika moes ontvang vir middeloorontsteking. Die terapie het my kroniese middeloorontsteking weggeneem,” vertel hy.

Hy vertel dat die stelsel jou help om ‘n hele nuwe lewenswyse met ‘n meer holistiese benadering te handhaaf.

Die behandeling is langtermyn en kliënte moenie verwag om binne die eerste sessie reeds gesond te wees nie.

‘n Voorbeeld van die SCIO-toerusting.

“‘n Sessie duur twee ure en dan behandel ek jou van jou kroontjie tot jou toontjie. Daar is mense wat al jare my kliënte is. Die behandeling is oorsaakgedrewe en nie sistematiesgedrewe nie.

“Dit is hoekom die probleem langer vat om behandel te word. Die stelsel probeer om jou in jou omgewing te behandel. Ek sit bandjies om jou arms, bene en kop, en dan werk die rekenaarprogram met jou bioritmes. Tydens hierdie tyd is daar geen inmenging van selfone en ander tegnologie nie.”

Morné vertel dat hy gereeld kursusse doen om op hoogte te bly en dat die program wat gebruik word, jaarlik opgegradeer word.

Hy vertel dat ‘n terapeut empatie moet hê en dat vertroulikheid baie belangrik is.

“Die manier hoe ‘n mens ‘n siekte-toestand hanteer is baie belangrik en jy moet versigting wees.

“Jy kan geen dokter se diagnose bevraagteken nie. Wanneer ‘n kind jonger as 16 is, moet die ouers insit in die sessie. ‘n Terapeut moet ook eers die situasie ontlont en hoe dit gedoen word, hang van terapeut tot terapeut af.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button