Mokopane inwoners staan saam teen misdaad

Die inwoners van Kameeldoringpark het verlede Donderdag vergader en 'n Gemeenskapspolisiërings-subforum gekies vir die woonbuurt.

MOKOPANE – Tydens die vergadering het sers. Wimpie Nel van SAPD Hoofkantoor van die afdeling Misdaadregistrasie en Statistieke die inwoners toegespreek. Volgens Nel is SAPD Hoofkantoor besig om te kyk hoe hulle hulp kan verleen aan Mokopane polisiestasie om misdaad te bekamp.

“Ongelukkig is daar ‘n begroting waarvolgens ons moet werk en is dit opsigself ‘n uitdaging om al die polisiestasies te akkommodeer. Ek kan wel sê daar is nuwe voertuie op pad en daar is ook nuwe innames van lede.”

Plant theft on the rise in Mokopane suburb

Volgens Nel is mannekrag een van Mokopane se grootste probleme. “Tydens ‘n skof is daar agt mense aan diens en daarvan moet vier in die aanklagkantoor werk om die gemeenskap klagtes te hanteer. Dan is daar twee voertuie met twee offisiere wat ‘n baie groot area dek. Daarom vra ons die gemeenskap se hulp deur middel van die Gemeenskapspolisiëringsforum.”

Nel sê daar was 25 sake geopen oor ‘n tydperk van ses maande in Kameeldoringpark wat insluit 18 huisbrake en sewe diefstalle.

“Die strate waar die meeste klagtes ontvang is, is Rabe, Tom Naude, Emily Hobhouse en Hindonstraat. Ons vra dat die gemeenskap alle voorvalle aan die polisie rapporteer.”

Andy Goetsch, die President van Gemeenskapspolisiëringsforum. in Mokopane, het gesê dit is uiters belangrik dat die gemeenskap saam teen misdaad werk omdat die polisie ‘n te kort aan mannekrag het. “Die polisie alleen sal nooit kan wen teen misdaad nie, hulle het elke inwoner se hulp en bystand nodig.”

Die Kameeldoringpark GPF subforum is:

President, Gemeenskapspolisiëringsforum: Andy Goetsch.

Voorsitter: Mariëtte Roos.

Ondervoorsitter: Hans De Waal.

Sekretaris: Anita Goodwin.

Addisionele lid: Mornè Coetzee.

Addisionele lid: Shaun McGrath.

Addisionele lid: Quinton Pretorius.

Addisionele lid: Herman Nel.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version