Local NewsNews

Fotograaf deel haar passie met die inwoners van Mokopane

Hier op die dorp is daar talle fotograwe wat ywerig leer hoe om hulle vaardighede by die nuutgestigde Potties Fotografieklub op te knap.

MOKOPANE – Fotografie gaan oor veel meer as om net ‘n knoppie te druk.

Jy moet jou kamera ken en verskeie elemente bemeester om ‘n unieke stempel op jou eindproduk te kan plaas.

Hier op die dorp is daar talle fotograwe wat ywerig leer hoe om hulle vaardighede by die nuutgestigde Potties Fotografieklub op te knap.

Die klub is die breinkind van Marlize van der Merwe. Sy vertel die idee om ‘n klub op die been te bring het al jare by haar gespook.

“Ek het einde Januarie die belangstelling getoets deur op sosiale media navraag te doen onder inwoners van Mokopane vir ‘n fotografieklub.

Die terugvoer was oorweldigend en so het ek en Lida Genis, tesourier van die klub, koppe bymekaar gesit en die eerste vergadering in Februarie gereël.”

Van der Merwe sê vanaf die eerste vergadering het die ledetal net gegroei en staan die klub tans op 33 lede.

“Die klub vergader die eerste Maandag van elke maand by die Park Hotel. Begin Maart het ek met behulp van die Fotografiese Vereniging van Suid-Afrika (FVSA) die klub amptelik gestig en geregistreer op Photo Vault. Klublede laai hulle foto’s op Photo Vault en met elke vergadering kom beoordelaars van Polokwane om die foto’s te beoordeel.”

Van der Merwe vertel die klub is nie net vir professionele fotograwe nie.

“Hier is ons almal groentjies en leer lekker saam om ons vaardighede te verbeter. Die klub reël ook foto-uitstappies en werkswinkels vir lede.”

Van der Merwe sê haar liefde vir fotografie het begin vandat sy ‘n knoppie kon druk.

“Dit was my droom vandat ek kan onthou en ek geniet elke oomblik uit my diepste binneste uit. My inspirasie is die reaksie wat my foto’s uitlok, ‘n bruid wat huil wanneer sy haar foto’s kry, ‘n mamma wat nie kan wag om met haar babafoto’s te spog of ‘n jong meisie wat nie kan glo sy is regtig so mooi nie.

“Ek het nie ‘n gunsteling plek om foto’s te neem nie, met my kamera in my hand is enige plek my gunsteling.”

Van der Merwe sê haar grootste uitdaging is om vir almal te laat sien dat daar om elke hoek en draai nog mooi is in die wêreld. “Alledaagse dinge waarby ons verbyloop verdien eintlik om raakgesien te word.”

Genis sê haar pa was die ywerige amateurfotograaf wat haar eerste kamera vir haar gekoop het toe sy 10 jaar oud was.

“Vandat ek my eerste kamera gekry het, soek ek gedurig inspirasie in al wat ‘n boek is, op die internet en by ander fotograwe. Ek hou daarvan om landskap- en portretfotos te neem.

“My gunsteling plek is Namibië. Ek probeer om met elke foto myself te verbeter en ‘n beter foto as die vorige een te neem.”

Fotografie-entoesiaste wat meer wil weet van die Potties Fotografieklub kan Van der Merwe by 082 509 9467 of Genis by 083 229 7831 kontak.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button