Kom speel ‘n putjie gholf vir ‘n goeie doel

'n Gholfdag om 'n mokopane-inwoner te help met mediese koste nadat sy ernstig in 'n ongeluk beseer is, word vir Donderdag, 23 Augustus, beplan.

MOKOPANE – Nellie van Zyl (40) en haar dogter, Manè van der Nest (18), was Sondag, 22 April, tussen 18:00 en 19:00 op die grondpad tussen Leonardville en Aranos (Namibië) in ‘n ongeluk toe die linkeragterband van hulle bakkie gebars het. Nellie het haar nek gebreek en is sedertdien ‘n kwadrupleeg.

Die vooruitsig dat sy weer sal kan loop, is skraal.

Nellie se gewese werkgewer, HF Mining, sowel as familie en vriende beplan dus om ‘n gholfdag ter geldinsameling by die Kameeldoring Gholfklub te hou.

Die geld sal aangewend word om haar onvoorsiene mediese kostes te dek.

Elna Jooste, Nellie se suster, sê die gebarsde band het die bakkie oor die pad getrek en die voorwiele het teen ‘n sandwal aan die regterkant van die pad vasgesteek.

Die bakkie het talle kere gerol.

Nellie was met die rol uit die bakkie geslinger en het haar nek seergemaak.

Mané het genadiglik met ‘n paar skrapies en blou kolle uit die bakkie geklim. Nellie kon op die ongelukstoneel niks behalwe haar nek beweeg nie.

” Sy vertel dat werkers van die buurplaas wat op ‘n donkiekar agter hulle gery het, hulp ontbied het.

“Noodhulpprosedures is in Aranos toegepas op Nellie en sy en haar man, Johann, is vandaar na Mariental waar sy gestabiliseer is.”

Nellie is daarna in Windhoek in verskeie hospitale behandel.

“Sy is uiteindelik in die Katolieke Hospitaal in Windhoek geopereer waar sy gehoor het sy sal moontlik nooit weer kan loop nie. Nellie sê wat gebeur het, was nie in haar hande nie, maar wel in die groter hand, God.”

Volgens Jooste word Nellie se arms by die dag sterker.

“Sy is besig met rehabilitasiebehandeling en is positief. Jesaja 43: 2-3: as jy deur water moet gaan is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God.”

Vir meer inligting, kontak HF Mining by (015) 491 1350 of Antonette Lubbe by 071 863 3871.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version