Local NewsNews

Hamermonster skuldig: Lewenslank agter tralies

Die 27-jarige Zimbabwiese burger, David Mamvura wat vyf jaar lank ‘n skrikbewind in Polokwane gevoer het deur by huise in te breek en vrouens met messe, skroewedraaiers of met ‘n hamer aan te val en te verkrag, is Dinsdag in die Limpopo Hooggeregshof op 31 aanklagte skuldig bevind en gister (Woensdag) tot altesaam 359 jaar …

Die 27-jarige Zimbabwiese burger, David Mamvura wat vyf jaar lank ‘n skrikbewind in Polokwane gevoer het deur by huise in te breek en vrouens met messe, skroewedraaiers of met ‘n hamer aan te val en te verkrag, is Dinsdag in die Limpopo Hooggeregshof op 31 aanklagte skuldig bevind en gister (Woensdag) tot altesaam 359 jaar tronkstraf gevonnis.
Die vonnisse sal tegelykertyd uitgedien word en meebring dat hy effektief ‘n lewenslange vonnis sal uitdien. Sy aansoek om appèl teen sy vonnis is ook deur die regter verwerp.
Benewens tien verkragtings­aanklagte, het regter Francis Kga­nyago hom ook op agt aanklagte van huisbraak met die doel om te verkrag, drie van poging tot moord, nege van roof met verswarende omstandighede en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind.
Minstens 15 vrouens en ‘n man het waarskynlik onder Mamvura se skrikbewind deurgeloop wat in totaal 40 aanklagte teen hom tot gevolg gehad het. Vyf van die verkragtingsaanklagte en vier ander is laat vaar nadat daar nie voldoende of betroubare bewyse voor die hof gebring is nie. Mamvura is deur middel van DNS positief met sy slagoffers verbind.
Kganyago het tydens sy uitspraak weer klem gelê op Mamvura se pogings om die hofverrigtinge te vertraag deur telkens sy regsverteenwoordiger in die pad te steek.
In April het die hof genoeg van sy streke gehad en is pleite van onskuldig op alle aanklagte teen hom aangeteken waarna die verhoor begin het. Mamvura het sy eie verdediging behartig.
Polokwane Observer het toe reeds oor die skokgetuienis deur sy slagoffers berig. In al die voorvalle het hy toegang tot ‘n oop venster gekry, sy slagoffers waarvan een toe 15 jaar oud was, gedreig, verkrag en selfone, skootrekenaars en televisies gesteel. In een voorval is ‘n man so erg met ‘n hamer getakel dat hy vandag nog sukkel om te praat en te loop.
Onder die ander getuies was onder meer vriende en familie van die slagoffers, die ondersoekbeampte, mediese dokters en verpleegsters. In totaal is 28 getuies deur die staat geroep.
Mamvura sou Maandag vier getuies geroep het, maar twee vrouens van Midrand het gesê dat hulle niks van die saak weet nie en sy ma kon nie betyds by die hof wees nie. Sy broer het Dinsdag ter versagting van sy vonnis getuig.
Mamvura het tydens sy getuienis ter versagting van vonnis gesê hy het ‘n vrou en twee kinders en het vir sy gesin, broer en ma gesorg. Hy het ook volgehou oor sy onskuld en gesê dit is onmoontlik dat hy deur middel van DNS met die aanklagte verbind kon word.
Kganyago het gesê hy is tevrede met die staat se bewyse en sien dit as betroubaar en kredietwaardig. In twee van die voorvalle kon sy slagoffers sy gesig sien en is hy ook in die hof as skuldige uitgewys. Kganyago het Mamvura se beweringe dat hy verkeerdelik geïmpliseer word, verwerp.
Staatsaanklaer, Sam Ngobeni het ter verswaring gesê Mamvura het nooit berou oor sy dade getoon nie.
“Hy het geen waarde aan sy slagoffers se morele welstand geheg nie en sy dade sal sy slagoffers vir jare bybly.”
Hy het ook vorige veroordelings teen hom nadat hy onderskeidelik in 2010 en 2012 op aanklagte van diefstal, aanranding, betreding en besit van gesteelde goedere skuldig bevind is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button