Local NewsNews

“Ek is met ‘n mop geslaan totdat die mop gebreek het”

Dis die woorde van 'n pasiënt wat deur stakende werkers aangerand was tydens die protesoptrede by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal

POLOKWANE – Die man, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het met sy vrou onder begeleiding van die veiligheidspersoneel uit die hospitaal gevlug terwyl hy steeds aan ‘n drip gekoppel was.

Hy het dit later self by sy huis afgehaal.

Die man vertel dat hy vroeg Maandagoggend by die hospitaal opgeneem is weens hartprobleme en hoë bloeddruk.

Langs hom was dokters besig met die noodbehandeling van ‘n middeljarige man wat, volgens wat hy gehoor het, ‘n beroerte gehad het, toe oproerige werkers net na 10:00 met stokke en besems in hul hande die noodgevalle-eenheid binnegestorm het.

“Hulle het my aangeval en ek is met ‘n mop geslaan totdat die mop gebreek het. Hulle het my ook met ‘n asblik waarin mediese afval was, gegooi.

Lede van die werkersunie Nehawu het tydens die staking onder meer hulle ontevredenheid uitgespreek oor onbetaalde bonusse vir die jaar 2016.

https://www.citizen.co.za/review-online/266940/watch-health-dept-condemn-strike-nehawu/

“Daar was bloederige lappe en spuitnaalde in. Die man langs my en die dokters wat besig was met noodbehandeling het toe die vertrek verlaat. Ek wonder steeds oor die man en of hy nie dalk in die proses gesterf het nie, want die dokters was baie besig met hom. Hy is deur ‘n man en ‘n vrou by die hospitaal afgelaai en hulle is daarna weg.”

Die man vertel dat die polisie betogende werkers met rubberkoeëls uitmekaargejaag het buite die hospitaal.

Hy was Dinsdag steeds erg getraumatiseerd en het gesê dat hy die aangeleentheid verder gaan voer en reeds ‘n saak by sy prokureurs aanhangig gemaak het. Hy sê dat hy blou kolle oor sy lyf het van die houe.

Die man moes Woensdag weer teruggekeer het na die hospitaal, aangesien hy geen medikasie vir sy hoë bloeddruk ontvang het nie.

Die Woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Niel Shikwambana het Maandag gesê dat die departement die stakende werkers, wat die hospitaal tot stilstand wou bring, se gedrag veroordeel en dit beskryf as “krimineel”.

Pasiëntelêers is ook in die proses vernietig. Oor die kwessie van die nie-betaling van bonusse het die Gesondheidsdepartement gesê daar is nie geld om dié betalings te doen nie.

https://www.citizen.co.za/review-online/267280/nehawu-embark-rolling-mass-action-next-week-polokwane/

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button