Local NewsNews

Twee Bendor-vulstasies na mekaar beroof, werknemer geskiet

Vulstasies en geldwaens is al vir ‘n geruime tyd in gewapende rowers se visier en die nuutste voorvalle op die stad se voorstoep was toe die Shell- en Engen-vulstasies in Munniklaan gisteroggend (Woensdag) minute uitmekaar beroof is. Tydens die voorval is een van die werkers by Shell Bendor in die maag geskiet en sterk tans …

Vulstasies en geldwaens is al vir ‘n geruime tyd in gewapende rowers se visier en die nuutste voorvalle op die stad se voorstoep was toe die Shell- en Engen-vulstasies in Munniklaan gisteroggend (Woensdag) minute uitmekaar beroof is.
Tydens die voorval is een van die werkers by Shell Bendor in die maag geskiet en sterk tans in ‘n plaaslike hospitaal aan.
Shell Bendor-bestuurder, Irene Schempers sê die verdagte het by die winkel ingestap, ‘n skoot geskiet en die kasregister oopgemaak. “‘n Werknemer is gewond, maar in ‘n stabiele toestand. Hy is met ‘n minimale kontantbedrag vort.”
Die verdagte is blykbaar vandaar na Engen Bendor, op die hoek van Munniklaan en Veldspaatstraat waar hy ongeveer R1 000 geroof het.
Engen Bendor-bestuurder, Elsie Roelofsz, sê die man het bloot by die winkel ingestap en ‘n skoot in die lekkergoedrak afgevuur. “Hy het die kassier beveel om die kasregister oop te maak en op die grond te lê waarna hy die kontant gevat het, die kassier glo geskop het en gevlug het. Ons kan nie op die sekuriteitskameras sien of hy in ‘n voertuig gevlug het nie,” sê Roelofsz.
Schempers en Roelofsz is dit eens dat een van die redes kan wees dat die rower gedink daar is baie geld op die perseel omdat meer motoriste gisteraand (Dins­dag) weens die brandstofprysstyging hul voertuie se brandstofvoorraad aangevul het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die voorval bevestig en gesê die verdagte was omstreeks 06:08 by Shell waarna dieselfde verdagte waarskynlik by Engen toegeslaan het.
Beide sake word deeglik ondersoek.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button