Polisie bedank boere vir hulp tydens transitoroof, ses weer is hof

Terwyl die polisie Sondag ‘n byeenkoms met die boeregemeenskap van Tzaneen, Gravelotte, Letsitele, Modjadjieskloof, Mooketsi en Hoedspruit gehou het om hulle te bedank vir hul bystand en hulp tydens ‘n onlangse transitoroof naby Letsitele, het vyf verdagtes in verband met dié voorval Maandag weer in die Ritavi landdroshof verskyn waarna die saak tot Augustus uitgestel …

Terwyl die polisie Sondag ‘n byeenkoms met die boeregemeenskap van Tzaneen, Gravelotte, Letsitele, Modjadjieskloof, Mooketsi en Hoedspruit gehou het om hulle te bedank vir hul bystand en hulp tydens ‘n onlangse transitoroof naby Letsitele, het vyf verdagtes in verband met dié voorval Maandag weer in die Ritavi landdroshof verskyn waarna die saak tot Augustus uitgestel is.
Volgens Limpopo Valke-woordvoerder, Ma­timba Maluleke, sal Sizwe Zwane (43), Prudence Ndala (47), Desmond Siyoko (25), Bosodi Albert Matemani (35) en Africa Malatjie (34) glo in Augustus aansoek doen om borgtog.
Intussen het die provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba sowel as van sy be­stuurslede Sondag met die boeregemeenskap by Letaba River Lodge ontmoet om hulle vir hul besonderse vennootskap met die polisie te bedank.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die boeregemeenskap ‘n hegte band met die polisie en verleen konstant bystand om verdagtes op te spoor deur padblokkades te hou en stop-en-deursoek-operasies te inisieer.
Die Tzaneen groepbevelvoerder, Maggie Mathebula, het sertifikate van waardering aan gemeenskapslede oorhandig en Ledwaba het gesê die boeregemeenskap het tydens die onlangse transitoroof by Letsitele ‘n groot rol gespeel om verdagtes aan te keer.
Boeregemeenskap-verteenwoordiger, Ben Coller, het die polisie vir hul pogings om misdaad in die gebied hok te slaan bedank en kriminele gewaarsku dat hulle nie ongestraf sal bly nie.
Adjunkkommissaris, Jan Scheepers, het gesê ‘n wedersydse goeie verhouding is belangrik omdat die polisie nie misdaad alleen kan beveg nie en het almal bedank vir hul onbaatsugtige diens deur hulpbronne soos helikopters tydens noodsituasies in te span.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version