Operasie Fiela II laat misdadigers aan pen ry

Die polisie het die naweek opnuut gewys dat hulle geen genade teenoor kriminele toon wanneer verskeie eenhede in die provinsie saamstaan om Operasie Fiela II uit te voer nie. Die operasie is van Vrydag tot Maandag­oggend weer regoor die provinsie gehou en 328 verdagtes is op aanklagte van onder meer moord, huisbraak, roof, onwettige jag, …

Die polisie het die naweek opnuut gewys dat hulle geen genade teenoor kriminele toon wanneer verskeie eenhede in die provinsie saamstaan om Operasie Fiela II uit te voer nie.
Die operasie is van Vrydag tot Maandag­oggend weer regoor die provinsie gehou en 328 verdagtes is op aanklagte van onder meer moord, huisbraak, roof, onwettige jag, diefstal vanuit voertuie en die besit van gesteelde goedere en dwelms aangekeer.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die verdagtes is tussen die ouderdom van 18 en 45 en sal gedurende die week in verskeie howe in die provinsie verskyn.
Veldwagters van die Kruger Nasionale Park het volgens hom Saterdag inligting ontvang van verdagte mans wat die park onwettig binnegegaan het. Die wagters en die polisie het die wenk dadelik opgevolg en twee mans in die Bendemutale-nedersetting aangekeer wat in besit van ‘n nyalakarkas en veldwagteruniforms was. Intussen het die polisie ook ‘n 41-jarige man aangekeer wat in besit van ‘n R1-aanvalsgeweer en ammunisie was.
Twee verdagtes het hul rieme in Modimolle styfgeloop nadat hulle by ‘n petroleummaatskappy ingebreek het nadat hulle ‘n gat in die­ heining gemaak het om toegang tot die perseel te kry. ‘n Sekuriteitswag is oorrompel en vasgebind en hulle het met gereedskap, ‘n skootrekenaar en kontant gevlug. Die polisie het vinnig gereageer en ‘n intense ondersoek het hulle na die verdagtes gelei.
Tydens die operasie is beslag gelê op vyf gesteelde voertuie, ‘n pistool, twee jaggewere, dagga en dwelms, klanksisteme, skootrekenaars, gereedskap, pangas, messe en koperkabels.
Verder is 383 voertuie en 612 mense gedurende die operasie deursoek en 192 voertuie is vir padwaardigheid getoets.
Ngoepe waarsku dat Operasie Fiela byna elke naweek reg oor die provinsie sal plaasvind en het die publiek se samewerking gevra.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version