Nalatige boere kan groot skade verwag tydens veldbrande

Groot kommer heers onder sommige boere en kleinhoewe-eienaars in die Leeuwkuil-omgewing oor die nalatigheid en die ignorering van wetgewing van ander grondeienaars in die gebied wat verseg om brandpaaie te maak en almal se weiding, wild, beeste en eiendom in gevaar stel. “Na aanleiding van verlede jaar se brand waartydens ongeveer 1 000 ha weiding …

Groot kommer heers onder sommige boere en kleinhoewe-eienaars in die Leeuwkuil-omgewing oor die nalatigheid en die ignorering van wetgewing van ander grondeienaars in die gebied wat verseg om brandpaaie te maak en almal se weiding, wild, beeste en eiendom in gevaar stel.
“Na aanleiding van verlede jaar se brand waartydens ongeveer 1 000 ha weiding verwoes is en inwoners se voertuie beskadig is tydens pogings om die brand te blus, wek dit groot ontsteltenis omdat ons reeds in April tydens ‘n gemeenskapsvergadering ‘n beroep op grondeienaars gedoen het om voorsorg te tref. Vanjaar is daar baie meer gras wat chaos voorspel as ‘n brand sou uitbreek. Dit is soos ‘n veld vol petrol wat wag om te brand,” sê ‘n besorgde grondeienaar, Chris Harmse.
Harmse sê benewens enkele grondei­enaars wat hul kant bring is hul hande afgekap. Hy het Polokwane Observer in die gebied rond­geneem om te wys hoe brandpaaie moet lyk. “‘n Brandpad moet minstens 3 meter ge­skraap en ‘n verdere 3 meter kort gesny wees aan beide kante van die heining. Dit bied minstens 12 meter gaping en die kanse is skraal dat ‘n vuur oor so breë strook sal spring.”
Hy meen dat brandpaaie nie net veldbrande beperk nie, maar ook met veiligheid help omdat skurke nie wegkruipplek langs heinings het nie. Hy waarsku dat wanneer daar ‘n brand op ‘n hoewe waarvan die brandpaaie nie in orde is nie, uitbreek, die eienaar deur ander inwoners wat skade gely het, gedagvaar kan word.
Polokwane Munisipaliteit se bemarking-­en kommunikasiebestuurder, Matshidiso Mothapo, sê die munisipaliteit is nie verplig om grondeienaars te help om brandpaaie te maak nie, maar dat die brandweer wel altyd gereed is om te help indien daar ‘n veldbrand is.
Hy het bevestig dat die Wet op Bos- en Veldbrande van 1998 dit duidelik stel dat 3 meter skoongeskraap moet wees en ‘n­ verdere 3 meter so kort moontlik aan weerskante van ‘n heining gesny moet word. “Brandpaaie is verpligtend in enige beboste gebied en enigiemand wat nie aan die wet voldoen nie kan vervolg word en selfs deur hul bure vir skade aan hul eiendom gedagvaar word.”
Working on Fire (WoF) Limpopo se hulp is vir Junie reeds met 15 veldbrande in die provinsie ingeroep. WoF-skakelbeampte, Matema Gwangwa, sê hulle het nie die mag om toe te sien dat grondeienaars aan die vereistes voldoen nie, maar dat die WoF se rol in die gemeenskap is om boere te help om vuurvegsisteme soos brandpaaie in plek te stel en te onderhou. Sy waarsku dat die wet bepaal dat ‘n grondeienaar wat verplig is om ‘n brandpad te maak waar nodig, maar versuim om dit te doen, ‘n boete opgelê kan word of selfs tronkstraf van ‘n jaar kan kry.
Leeuwkuil se probleme eindig nie by veldbrande nie, maar veroorsaak onwettige betreders wat heinings om geen rede knip en rondloperhonde is ook ‘n groot kopseer. Tydens dié rit saam met Polokwane Observer is ‘n heining binne 500 m nege keer deur boosdoeners geknip. “Ons weet nie waarom word heinings daagliks geknip nie. Ons vee raak nie weg nie en dit kan dus nie aan stropers toeskryf word nie. Dit kos nie net geld om heinings te herstel nie, maar kosbare tyd gaan verlore.”
Harmse sê wanneer hulle die polisie skakel word daar gesê hulle kan nie ‘n saak open nie omdat niks gesteel is nie. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Voorbeeld van hoe ‘n brandpad moet lyk.
Exit mobile version