Carlos Santa Rita skielik oorlede

Carlos Santa Rita (75) is Saterdag­oggend in Mediclinic Limpopo aan breinkanker oorlede. Hy is in 1943 in Viseu in Portugal gebore en is op elfjarige ouderdom saam met sy ma per skip na Maputo in Mosambiek waar sy pa reeds ‘n hardewarewinkel bedryf het. Hy het ook daar gematrikuleer. In 1963 het hy na Suid-Afrika …

Carlos Santa Rita (75) is Saterdag­oggend in Mediclinic Limpopo aan breinkanker oorlede.
Hy is in 1943 in Viseu in Portugal gebore en is op elfjarige ouderdom saam met sy ma per skip na Maputo in Mosambiek waar sy pa reeds ‘n hardewarewinkel bedryf het. Hy het ook daar gematrikuleer.
In 1963 het hy na Suid-Afrika gekom, diensplig voltooi en vir ‘n graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Natal ingeskryf, maar nie sy studies voltooi nie en by Standard Bank in Potchefstroom begin werk.
In 1969 is hy Mbombela toe ver­plaas waar hy sy vrou, Liza, ontmoet het en hul twee jaar later getroud is. In 1974 met die Mosambiekse oorlog het van dié burgers na Mbombela uitgewyk waar die Santa Ritas nou betrokke was. Liza het Engels onderrig en Carlos het vertaalwerk gedoen en die vlugtelinge met hul dokumentasie gehelp.
In 1981 het hul na Polokwane verhuis waar hy by The South African Cold Chain Association tot met sy aftrede in 2003 werksaam was.
Carlos het ‘n groot passie vir kook gehad en het as vrywilliger by die SAVF gereeld agter die kospotte ingeskuif. Hulle is die afgelope tien jaar inwoners van Vergeet My Nie Behui­singsentrum.
Tydens die 2010 Sokkerwêreldtoernooi het hy as vrywilliger vertaalwerk gedoen tydens die wedstryde wat in Polokwane gespeel is. Enige sport, maar veral sokker het hom na aan die hart gelê.
Hul seun, Mario, sê hy het nie net sy pa verloor nie, maar ook sy beste vriend en mentor en sal sy nalatenskap laat voortleef.
“Dit voel asof ek ‘n broer verloor het. Carlos was my groot vriend,” sê Frank Ferreira wat saam met Carlos deel van die Wednesday’s Club was wat weekliks byeengekom en saam gekuier het.
Benewens Liza en Mario word hy oorleef deur sy skoondogter, Anne-Marie, twee kleinkinders, Xico en Zara en ‘n suster, Dina Morais.
Die roudiens het gister (Woensdag) vanuit die NG Kerk Noordgemeente plaasgevind.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Exit mobile version