POLOKWANE – Op Woensdag, 20 Junie, het die leerders van Laerskool Pietersburg-Oos pas hul eksamens voltooi en was dit weer tyd vir die jaarlikse Mnr. en Mej. Bibber-kompetisie.
Vanjaar se tema was Osie Airline en gaste is gedurende die kompetisie op ‘n ‘vlug’ geneem wat hulle nie maklik sal vergeet nie.
Twee finaliste uit elke gr. 5-klas is gekies om aan dié kompetisie deel te neem en vanjaar se finaliste was Fritz du Toit, Mikhayla Odendaal, Jan-Andrean Venter, Ashleigh Lyons, Christiaan Roos, Surika-Marie van Coppenhagen, Siyabonga Mahlangu, Chignet Davel, Amiel Robbertze, Carla Harmse, Veronique van der Bank en Gere Mommsen.
Deelnemers is beoordeel op grond van hul selfvertroue en ook persoonlikheid wat die beoordelaars se taak beslis nie maklik gemaak het nie.
Die deelnemers moes eers vrae oor mekaar beantwoord en daarna dan ook vrae wat deur die beoordelaars gevra is, beantwoord.
Uiteindelik moes die wenners aangekondig word en die saal het behoorlik gejuig van opgewondenheid toe Surika-Marie van Coppenhagen en Christiaan Roos as wenners aangekondig is.
“Ek het glad nie verwag om te wen nie, maar dit was beslis ‘n aangename verrassing,” vertel Surika-Marie.
Woensdagaand het die gr. 6- en 7-leerders ook die jaarlikse Bibbersokkie geniet.