Local NewsNews

Mengouchi-kompetisie se eerste matriekwenner kry haar skepping

Vallerey Rosser het sewe rokke aangepas, maar toe sy haar rok sien, het sy net geweet dít is die regte rok.

POLOKWANE – Ma’s en hul dogters deel ‘n spesiale band en hulle is dikwels deel van mekaar se grootste lewenservaringe.

Een so ‘n ma en dogter is Judith en Vallerey Rosser. Hulle band is so spesiaal dat Vallerey selfs haar matriekafskeid wou misloop sodat haar ma, wat presies ‘n maand na dié spesiale dag trou, nie nog oor hierdie uitgawes hoef te bekommer nie. Vallerey is Judith se tweede oudste dogter.

Lees ook: A ‘Mengouchi’ to make her dream come true

“In die begin van die jaar het ek nie gedink ek sal na my matriekafskeid kan gaan nie, aangesien my ma se troudatum so naby die afskeid se datum is.

“Ek wou nie vir my ouers vra vir geld vir ‘n rok, hare en naels nie aangesien ek gevoel het hulle moet hul geld eerder op hul troudag spandeer,” vertel die gr. 12-leerder van Hoërskool Pietersburg.

Vallerey se planne het egter nie so uitgewerk nie en terwyl sy en haar ma by Erika Mengouchi van Mengouchi Haute Couture was om na ‘n trourok te soek het sy gehoor van die Mev. Polokwane en Mengouchi Haute Couture matriekafskeid-kompetisie.

Om deel te neem moet ‘n gr. 12-leerder ‘n kort motiveringsbrief skryf oor waarom sy of hy gehelp moet word. Mev. Polokwane 2018, Janine Kruger, kry dan borge vir items soos naels, hare, grimering en foto’s onder andere om die wenners se matriekafskeid so spesiaal moontlik te maak terwyl Erika die rok of pak borg.

Vallerey het sewe rokke aangepas, maar toe sy haar rok sien, het sy net geweet dít is die regte rok. Die rok het haar dan ook soos ‘n handskoen gepas.

“Ek is vreeslik opgewonde vir die matriekafskeid. Alhoewel ek nie gedink het ek gaan gaan nie, wou ek tog saam met my vriende die afskeid bywoon.”

Sy vertel dat sy nog skoene en juwele kort, maar dat sy seker is dat dit nie te moeilik sal wees om te vind nie.

Borge vir Vallerey:

• Gretchen de Beer Hair Stylist.

• Sparrow Photography SA by Nonnie Potgieter.

• Cheri Brunette van CB Make-Up.

• Beauté et Santé vir naels.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button