Local NewsNews

Gestrand in Sjina

Timoné Theron is darem nou reeds veilig tuis maar haar ma, Lorraine, vertel van haar tyd van beproewing.

POLOKWANE – Dit is reeds ‘n angswekkende gevoel vir ouers wanneer ‘n kind in ‘n vreemde land, weg van familie en vriende gaan werk, maar wanneer ‘n kind in daardie land in aanhouding is, is ‘n gevoel wat min kan beskryf.

Dít is wat met Lorraine Theron, ‘n inwoner van die stad, gebeur het toe haar 19-jarige dogter, Timoné, een van die jongmense was wat verlede week in Sjina aangehou was omdat hulle nie die korrekte werksvisums gehad het om in dié land te werk nie.

Timoné is darem nou reeds veilig tuis maar Lorraine vertel van haar tyd van beproewing.

“As haar ma was hierdie ‘n aaklige tyd in my lewe; ek het so baie gehuil. Sy sit meisie-alleen in ‘n ver, vreemde land en my hande is afgekap. Ek kan niks doen om dinge vir haar makliker en beter te maak nie. Dit was ‘n goor tyd,” vertel Lorraine.

Sy sê die reis het aanvanklik as ‘n avontuur begin toe Timoné gehoor het een van haar vriende het die geleentheid gekry om in Sjina te gaan werk, vir “baie goeie geld”.

“Hy het vir Timoné daarvan vertel en al wat sy moes doen om in aanmerking te kom was om ‘n video te maak van hoe sy klasgee en dit dan te stuur. Daar is met haar ‘n onderhoud gedoen en sy het dadelik die werk gekry, sy moes bloot vir ‘n besoekersvisa aansoek doen. Dié het sy een Dinsdag in Januarie gekry en die volgende Woensdag het sy na Sjina gevlieg. Hier moes sy haar paspoort inhandig sodat die agentskap namens haar vir ‘n werksvisa kon aansoek doen.”

Hulle was ‘n groep van ongeveer 50 jongmense wat almal deur ‘n agentskap in Sjina werk gekry het, maar slegs ‘n paar maande na sy daar begin werk het, het dinge lelik begin skeefloop.

Timoné het net ‘n studentevisa gekry en is toe in ‘n woonstel geplaas vanwaar sy dan gewerk het.

Lorraine vertel al die studente is in ‘n stadium weer terug na die universiteit geroep waar die agentskap weer besit van hulle paspoorte geneem het.

Hulle kon weer gaan skool gee, maar is kort daarna weer beveel om terug te keer na die universiteit.

“Die kinders was vir ongeveer 110 dae by die universiteit.

“Party van hulle kon hulle besittings uit hul woonstelle gaan haal, maar ander het nie daardie voorreg gehad nie. Hulle kon ook nie terugkeer na Suid-Afrika nie aangesien hulle nie hul paspoorte gehad het nie. Wat salaris aanbetref, het hulle net die helfte van Maart en April se salarisse ontvang. Hulle het vir ‘n tyd lank 100 yen, sowat R206 per week gekry vir kos, en die laaste week darem 200 yen. Die universiteit kyk regtig mooi na hulle.”

Die studente se ouers het begin planne beraam om hulle kinders terug te kry in Suid-Afrika en na ‘n uitsending op die TV-program, Carte Blanche, het die Sjinese Ambassade ingegryp en begin help.

“Timoné het gister (Woensdag) weer in Suid-Afrika aangekom en sê sy sal graag weer oorsee wil gaan werk, maar ek is nou te versigtig. Dinge kon soveel erger uitgedraai het,” vertel Lorraine.

Haar raad aan ander ouers en voornemende werksoekers is om eers dubbel seker te maak voordat hulle enige iets aanvaar.

“Neem al jou dokumente na die ambassade toe sodat hulle kan bevestig of jy oor al die nodige dokumentasie beskik en of alles in orde is, nog voor jy begin werk. Moet niks bloot net op grond van iemand anders se woord glo nie en vertrou jou instink. Ek wou van die begin af nie gehad het Timoné moes gaan nie, maar sy was baie opgewonde. Nou voel sy soos ‘n mislukking, wat sy glad nie is nie. Sy is ‘n liefdevolle, vriendelike kind met ‘n klein hart wat almal wil help. Ons is baie bly om haar terug te hê.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button