Local NewsNews

Werker reël glo rooftog, mesaanval op jong sakevrou

Vier verdagtes, insluitend ‘n werknemer van ‘n geskenkwinkel in Platinumpark, sal na verwagting môre (Vrydag) weer in die Polokwane landdroshof verskyn in verband met ‘n voorval by ‘n onderneming verlede Woensdag waartydens die 25-jarige mede-eienaar, Monique Coetzee, beroof en met ‘n mes gesteek is. Coetzee sterk tuis aan en sien nog nie kans om weer …

Vier verdagtes, insluitend ‘n werknemer van ‘n geskenkwinkel in Platinumpark, sal na verwagting môre (Vrydag) weer in die Polokwane landdroshof verskyn in verband met ‘n voorval by ‘n onderneming verlede Woensdag waartydens die 25-jarige mede-eienaar, Monique Coetzee, beroof en met ‘n mes gesteek is.
Coetzee sterk tuis aan en sien nog nie kans om weer werk toe te gaan nie. “Die man was daartoe uit om my dood te maak, maar die Here se hand was om my. Engele het my teen sy aanslag beskerm.”
Die voorval het net na 16:00 gebeur toe twee mans by die winkel instap. “Ek was dadelik agterdogtig en het vir ons werkne­mer, wat help krale maak, gevra om hulle dop te hou. Sy het snaaks opgetree en nie regtig aan my versoek voldoen nie. Ek het my selfoon uitgehaal om ‘n oproep te maak toe een my gryp en agter die toonbank afdruk.”
Die verdagte het blykbaar een van die messe wat as geskenke verkoop word gevat en verskeie kere na haar gesteek, maar telkens gemis. “Hy het my daarna op die kop geslaan en ‘n stoel oor my gesit toe ek en die werker, wat vreeslik gehuil het, op die grond was. Die skurk het my handsak agter die toonbank gevat en nie eers moeite gedoen om die kasregister oop te maak nie – dis asof hy geweet het ons bêre die winkel se geld in my handsak en het min kontant in die kasregister,” sê Coetzee.
Die verdagte het met die handsak by die winkel uitgestap, maar omgedraai en teruggekom en ‘n finale steekhou na haar nek gee. “Met dié dat ek gekeer het, het hy my in die arm gesteek voordat die tweede verdagte alarm by die deur gemaak en hulle laat spaander het toe ‘n kliënt instap,” sê Coetzee.
Die polisie was vinnig op die toneel en het dadelik ‘n deeglike ondersoek begin. Op die sekuriteitskameras van die winkel sowel as die winkelsentrum kon die polisie sien dat die voorval moontlik deur die werknemer georganiseer is. “Die beeldmateriaal wys hoe my aanvaller eers die verkeerde handsak vat en die werker vir hom wys watter een myne is. Sy (die werknemer) beweer sy is ook geslaan en is vir behandeling kliniek toe geneem, maar op die videomateriaal het nie een van die aanvallers aan haar geraak nie.”
Sy en drie ander is die volgende dag deur die polisie aangekeer.
Provinsiale polisiewoordvoer­der Mamphaswa Seabi het die voorval bevestig en gesê vier verdagtes is in aanhouding en sal môre in die hof verskyn. “‘n Saak van besigheidsroof word ondersoek en ‘n vrou, waarskynlik die werknemer, is onder die vier verdagtes. ‘n Selfoon en ‘n gedeelte van die geld wat gebuit is, is teruggevind.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button