Pa en skoolhoof wees eenders meen dié hoofde

Attie Visagie glo nie daaraan dat ‘n mens se besittings jou trots moet wees nie maar eerder jou kinders, en dít is iets wat hy as die hoof van Laerskool Pietersburg-Noord Primary uitleef.

POLOKWANE – “Ek glo daaraan om ‘n oop deur te hê vir die kinders van die skool. Om daar te wees soos ‘n pa en hulle raad te gee waar nodig. Ek glo die woorde ‘ek is lief vir jou en trots op jou’ is iets wat kinders moet hoor en as ‘n hoof kry jy baie die kans om met leerders interaksie te hê soos jou eie kinders,” vertel hy.

Willie Schoeman is die hoof van Hoërskool Pietersburg en hy vertel dat hy nie huiwer om dieselfde raad wat hy aan sy eie kinders gee ook aan skoliere te gee nie.

“Wanneer jy na een kind uitreik gaan praat hy met sy maats en so versprei die word en word kinders wat andersins nie hulp het nie gehelp. Dis belangrik dat alle pa’s die goeie raad wat hulle aan hul eie kinders gee ook deel met die kinders se maats omdat dit baie maal dalk die enigste goeie raad is wat die kind sal ontvang. As die hoof staan ons maar in waar ons kan om leerders rigting te gee,” vertel hy.

Willie Schoeman.

Peet Bredenkamp is reeds vir ‘n aantal jare die hoof van Laerskool Pietersburg en dit beteken dat hy reeds telke male as pa vir leerders ingetree het.

“Om pa en hoof te kan wees is ‘n geleentheid van die Here af om Sy beeld uit te dra. Dit is die kans om Bybelse leiding te gee waar baie kinders dit dalk nie by die huis kry nie. As pa van jou eie kinders, en ook hoof van ‘n skool, is dit belangrik om jou Christelike plig na te kom en leiding te gee sodat die leerders en jou eie kinders kan reg lewe en ‘n lewe hê wat ryk en betekenisvol is,” vertel hy.

Peet Bredenkamp.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version