Skoolhoofde praat Bosveld Intervarsity

16 Junie is weer Bosveld Intervarsity tyd

Piet Holtzhausen glo in tradisie

‘n ARABIESE spreekwoord som Bosveld Intervarsity in ‘n paar woorde op deur te sê: “Gooi jou hart voor jou uit en hardloop dan vorentoe om dit te vang.”

Presies dít is wat elke Tommie en Pietie rugbyseun en netbalmeisie op Saterdag, 16 Junie, gaan doen.

As mededingende skole is dit vir ons belangrik om kinders op die sportveld te laat waag.

Dit is nie omdat die wêreld so moeilik is dat ons nie wil waag nie.

Dit is omdat ons nie waag nie, dat die wêreld so ‘n moeilike plek geword het.

Mag elkeen wat die dag bywoon die adrenalien van skolesport in totaliteit beleef. Mag hierdie mooi tradisie nog vir baie lank voortleef, want die blywendste prestasie is oorwinning oor jouself.

Wie dit eenmaal gesmaak het, sal selde ‘n nederlaag ly.

Bosveldgroete

Piet Holtzhausen

 

Boodskap vanaf Willie Schoeman

EK was nog altyd ‘n voorstander van tradisies, want ek glo enige skool se wortels is in sy tradisie gegrond.

By Hoërskool Pietersburg spog ons met verskeie tradisies wat oor die jare hul staanplek gevind het in ons geskiedenis.

Kardoesie is vanjaar 50 jaar oud en in Julie gaan ons hierdie mylpaal in styl vier.

Die Bosveld Intervarsity was vir baie jare ‘n groot tradisie.

In die verlede het dit vir groot opwinding in die destydse Pietersburg gesorg.

Ten spyte van etlike jare se afwesigheid het die Bosveld Intervarsity sy terugkeer gemaak in 2016 en kan hierdie groot opwinding weer deur almal ervaar word.

Soos in 1995, toe die Springbokke tydens die Rugbywêreldbeker die nasie verenig het, kry die Bosveld Intervarsity dit reg om die Polokwane-gemeenskap te verenig. Vanjaar word hierdie kragmeting op die velde en bane van HTS Tom Naudé voortgesit en beloof dit om steeds genot aan oud en jonk te verskaf.

‘n Woord van dank aan al die personeel van HTS Tom Naudé wat baie tyd afgestaan het om van vanjaar se Bosveld Intervarsity ‘n sukses te maak.

My opregte dank en waardering ook aan Hoërskool Pietersburg se afrigters wat deur die jaar hard gewerk het om ons seuns en meisies optimaal te ontwikkel en aan hulle die nodige blootstelling te bied. Ons sien daarna uit om die dag saam met ons buurskool te geniet.

Pietiegroete

Willie Schoeman

 

 

Exit mobile version