Ouers bekommerd oor digte bos

Bekommerde inwoners en ouers van Laerskool Krugerpark vrees daar broei ongewensde dinge uit in die digte bos op die hoek van Van Riebeeck- en Pretoriusstraat waarlangs talle leerders soggens en smiddae moet loop.

MOKOPANE – Johann Vertongen, Skoolhoof van Laerskool Krugerpark, het Marcelle Maritz, Limpopo Leier van die Vryheidsfront Plus, genader en ouers se bekommernis aan haar uitgelig. Maritz het Helen Mahlo, Senior Administrateur van eiendom en fasiliteite by die Departement van openbare Werke, genader.

Maritz sê: “Die perseel behoort aan Publieke Werke en dit is hulle verantwoordelikheid om die perseel instand te hou en te ontbos. Die ouers se kommer hou vir my water en daarom sal ek als in my vermoë doen om die veiligheid van kinders te verseker.

“Daar skuil booswigte in die bos en dit is ook ‘n wegkruipplek vir dwelmhandelaars.

“Ouers het ook gekla dat hulle kinders geteister word as hulle na en van die skool stap.”

Vertongen sê die bos is ‘n groot kommer. “Hier is maklik ses skole, insluitend kleuterskole en naskole, in die omgewing en een of ander tyd moet leerders hier verbyloop. Daar moet dringend aandag geskenk word aan die probleem voor dit te laat is.”

Mahlo sê sy het die probleem met haar hoofde opgeneem en hulle sal spoedig aandag aan die probleem gee. “Ek sal dan terugvoering aan Maritz gee.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version