Verdagtes in transitorooftogte bly vir eers agter tralies

Die 12 verdagtes wat hul rieme met die polisie styfgeloop het na twee onlangse transitorooftogte buite Polokwane en naby Letsitele word steeds aangehou. Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke, sê Sizin Shabangu, Veli Zwane, Prudence Ndala, Desmond Siyoko, Albert Matemane en Mothibedi Malatji het Vrydag in die Tzaneen landdroshof verskyn waarna die saak tot 2 Julie uitgestel …

Die 12 verdagtes wat hul rieme met die polisie styfgeloop het na twee onlangse transitorooftogte buite Polokwane en naby Letsitele word steeds aangehou.
Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke, sê Sizin Shabangu, Veli Zwane, Prudence Ndala, Desmond Siyoko, Albert Matemane en Mothibedi Malatji het Vrydag in die Tzaneen landdroshof verskyn waarna die saak tot 2 Julie uitgestel is terwyl hulle agter tralies bly. Dié verdagtes is verlede Dinsdag op die Hoedspruit/Lydenburgpad deur polisie aangekeer nadat hulle glo ‘n geldwa naby Letsitele beroof het.
Twee voertuie met sowat tien verdagtes het op die geldwa op die R71 losgebrand. Toe die voertuig tot stilstand kom, het die verdagtes glo die wagte uit die voertuig gedwing waarna hulle plofstof gebruik het om die kluis oop te skiet en gevlug het.
Die polisie het vinnig gereageer en plaaswag­lede het gehelp om padblokkades op te rig. Een voertuig met vyf verdagtes is naby Swadini voorgekeer en ‘n skietery het ontstaan waarna een doodgeskiet en drie gearresteer is. Een het gevlug.
Die tweede voertuig is naby die JG Strydom-tonnel voorgekeer waar hulle op die polisie losgebrand het wat daarin kon slaag om nog ‘n verdagte vas te trek terwyl die ander gevlug het. Tydens die arrestasie is twee AK47-aanvalsgewere en ‘n R4-geweer, ‘n pistool, koeëlvaste baadjies, twee sakke geld en blou ligte gevind.
Intussen is Howard Hlophe (33), Isaac Seranotswe (40), Nkosingiphile Msimango (39), Daniel Bambiso (49), Collen Hlungwani (39) en Lethabo Ntlhane (26) se borgaansoek Dinsdag in die Seshego landdroshof geweier waarna die saak tot 15 Augustus uitgestel is.
Die verdagtes is aangekeer weens hul beweerde betrokkenheid by ‘n transitorooftog op die Matlalapad op 28 Mei waartydens ‘n pantserwa van die pad geforseer is nadat die verdagtes glo op die voertuig se wiele losgebrand het. Die wagte is uit die voertuig geboender en aangehou terwyl die kluise gebombardeer is voordat die skurke vort is.
Die polisie het kort daarna van die verdagtes aangekeer terwyl ander gedurende die nag in Seshego gearresteer is. Tydens die arrestasie is ‘n Toyota Hilux-bakkie en Ford Kuga-nutsmotor met koeëlgate gekonfiskeer wat onlangs in Gauteng as gesteel aangemeld is. Plofstof, geldsakke, vuurwapens en ammunisie is ook gevind.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version