Staatmaker by Piet Hugo tree af na 18 jaar

Na sowat 30 jaar waartydens sy ‘n verskil in leerders se lewens gemaak het, het Rialette van Eeden besluit om die tuig neer te lê. Van Eeden het 18 van die 30 jaar in die onderwys by Laerskool Piet Hugo Primary skoolgehou en sê alhoewel sy baie lief is vir die leerders, voel sy dit …

Na sowat 30 jaar waartydens sy ‘n verskil in leerders se lewens gemaak het, het Rialette van Eeden besluit om die tuig neer te lê.
Van Eeden het 18 van die 30 jaar in die onderwys by Laerskool Piet Hugo Primary skoolgehou en sê alhoewel sy baie lief is vir die leerders, voel sy dit is nou tyd om alles waarvoor sy nie voorheen tyd gehad het nie te doen. “Dis egter moeilik om totsiens te sê. Ek het vir baie van my huidige leerders se ouers ook skoolgehou en voel soos deel van hulle families.”
Haar man, Pieter, het ‘n paar jaar gelede as adjunkhoof van die skool afgetree en is ‘n bekende cliveakweker wat ook jaarliks die Cliveaskou in Polokwane aanbied. “Ek gaan hom help met die cliveas, bak en naaldwerk doen, maar vir eers gaan ons vir ‘n lekker lang vakansie Krugerwildtuin toe,” sê sy ingenome.
Die skool se personeel, beheerliggaamlede en leerders het onlangs moeilik van haar afskeid geneem. “Dit was ‘n baie emosionele dag. Die skoolleiers het ‘n erewag vir my gevorm toe ek die saal instap en die hoof, onderwysers, beheerliggamlede en leerders het verskeie afskeidboodskappe gelewer.”
Skoolhoof, Werner Christou sê Van Eeden het van die begin af net die beste onderrig aan elke leerder wat voor haar gesit het gelewer en het haar stiptelikheid uitgesonder. “Sy was altyd betyds, slaggereed vir onderrig en baie trots op haar werk. Haar professionaliteit sal voorwaar gemis word. As skoolgemeenskap wens ons haar ‘n geseënde en gesonde aftrede toe, gun haar meer tyd met haar geliefdes en is opreg dankbaar vir haar harde werk en toewyding.”
Van Eeden het op haar beurt waardering aan almal wat deel van haar onderwysjare was, uitgespreek.

Storie en foto:

Exit mobile version