Local NewsNews

Leerders in skooldrag koop toenemend en openlik dwelms van smouse

‘n Polisie- en GPF-operasie verlede week het opnuut lig gewerp op die gevare en ironie wat in straatsmouse se lekkergoedvoorraad skuil. Deelnemers aan die operasie het verlede Woensdag op smouse in die park by die Tom Naudédam toegeslaan nadat inligting ontvang is dat hulle toenemend dagga en waarskynlik ander dwelms aan leerders in skooldrag verkoop …

‘n Polisie- en GPF-operasie verlede week het opnuut lig gewerp op die gevare en ironie wat in straatsmouse se lekkergoedvoorraad skuil.
Deelnemers aan die operasie het verlede Woensdag op smouse in die park by die Tom Naudédam toegeslaan nadat inligting ontvang is dat hulle toenemend dagga en waarskynlik ander dwelms aan leerders in skooldrag verkoop en die voorraad dan elders deur leerders opgetel word.
Dié park is die middelpunt van minstens drie groot skole in die omgewing waar leerders ongesiens en vrylik dagga kan bekom. Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters, sê hulle het verlede Woensdag inligting ontvang en is saam met die polisie na die gebied. “Met ons aankoms het vyf leerders dagga by een van die smouse gekoop, maar met die blote oog sal niemand besef wat eintlik aangaan nie. Die smous sit met gewone lekkergoed soos pepermente en kougom wat hy verkoop, maar daar lê ‘n dieper gevaar waarvan ouers en die gewone publiek nie bewus is nie,” sê Retters.
Volgens hom is daar tussen die lekkergoed ook papiertjies wat gebruik word om zolle mee te draai. “Leerders betaal vir dagga by die smous en word dan verduidelik waar dit afgehaal kan word. In dié geval Woensdag is die dagga in ‘n papierkoppie van ‘n bekende wegneemeterestaurant in ‘n nabygeleë vullisdrom weggesteek. Die leerder loop bloot na die vullisdrom en haal die koppie uit,” verduidelik Retters.

‘n Polisiebeampte soek deur die lekkergoed wat deur ‘n straatsmous verkoop word.

Hy sê dié modus operandi word deur straatsmouse gebruik om te verhoed dat hulle met dagga in hul besit gevind en gearresteer word. “Dit was ook die geval tydens ons besoek aan die park dat die smous nie gearresteer kon word omdat hy nie dagga in sy besit gehad het nie. Ons het wel die koppie met dagga wat in die vullisdrom versteek was, gekonfiskeer.”
Hy het ouers gewaarsku om oplettend te wees op sekere items wat in hul kinders se skooluniform se sakke of selfs boektasse gevind word. “Die sakkies waarin dagga verkoop word, is soortgelyk aan dié van ‘n gewone banksakkie, net kleiner. Die bekende Rizzlapapier waarmee sigarette gerol word, kan ook ‘n teken wees dat ‘n kind moontlik dagga gebruik,” sê hy.
Hy het ‘n beroep op ouers gedoen om hul kinders aan te moedig om nie straatsmouse te ondersteun nie. Hy het ook die polisie gevra dat dié misdryf daadwerklike aandag sal geniet.
“Kinders is uitgelewer aan die gevare van dwelms op ons voorstoepe. Sanca is deurentyd besig met inligtingsessies by skole, maar die gemeenskap moet saamstaan en die smouse verdryf. Ouers moet begin dink dat dit net sowel hul eie kind kan wees wat voor die druk swig,” sê Sanca-direkteur, maatskaplike werker en berader, Amanda Swart, wat opnuut ‘n beroep op die gemeenskap doen om die organisasie se hande te sterk deur finansieel by te dra.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het teen druktyd nie op kommentaar gereageer nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button