Bosveld Intervarsity vanjaar weer ‘n groot gebeurtenis

Dit gons van opwinding oor die Bosveld Intervarsity wat vanjaar weer tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) plaasvind. Die week lange program het reeds Vrydag begin met die twee skole se onderwysers wat kragte op die gholfbaan gemeet het. Gisteraand (Woensdag) sou leerkragte mekaar op die rolbalbaan die stryd aansê met …

Dit gons van opwinding oor die Bosveld Intervarsity wat vanjaar weer tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) plaasvind.
Die week lange program het reeds Vrydag begin met die twee skole se onderwysers wat kragte op die gholfbaan gemeet het. Gisteraand (Woensdag) sou leerkragte mekaar op die rolbalbaan die stryd aansê met die skole se hokkie- en sokkerspanne wat mekaar vandag (Donderdag) aandurf en die dag met ‘n sokkie by Tommies sal afsluit. Môre (Vrydag) sal die jukskei-, skaak- en boogskietspanne mee­ding met die groot aksie Saterdag wanneer die netbal- en rugbyspanne op Tommies se velde koppe sal stamp.
Die ontstaan van die benaming van die Bosveld Intervarsity dateer terug na 1981 toe Ferdie Preller hoof was en die kragme­ting tussen Tommies en PHS letterlik duisende toeskouers gelok het soos by intervarsities wat deur universiteite aangebied word. Preller het grappenderwys gesê dat die kragmeting tussen die twee skole as die Bosveld Intervarsity moet bekendstaan wat byval by elkeen gevind het en die tradisie leef vandag steeds voort.
Sedert 1977 tot 1997 het die twee skole 27 keer teen mekaar gespeel waarvan Tommies 14 keer en PHS 11 keer gewen en twee wedstryde gelykop gespeel het. In 1982 het ‘n rekordgetal toeskouers van 6 000 die wedywe­ring bygewoon.
Tussen 2005 tot 2015 is die gebruik gestaak en die droogte word weer in 2016 gebreek toe Tommies besluit om dié tradisie te laat herleef.
Saterdag se program begin reeds om 09:00.
Vir meer inligting skakel die skool by 015 298 8710.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Exit mobile version