TV-speletjies meer as net speel-speel vir Harry

Wie sou kon dink dat om Playstation4 televisiespeletjies te speel vir jou 'n inkomste kan genereer soos wat dit op die kantlyn doen vir Harry Dique (27)

MOKPANE – Harry, ‘n eiendomsagent, het sy stokperdjie in ‘n werksgeleentheid verander.

Hy is onlangs gekies as die enigste speler uit Limpopo om geborg te word deur die bekende 2daMaxClub wat hom die kans gee om geld te wen deur aanlyn teen ander spelers tydens toernooie te kompeteer.

Hy kan ook toernooie self aanbied deur 2daMaxClub en só geld verdien.

“In al my vrye tyd probeer ek soveel as moontlik aanlyn speel en selfs saam met my vriende om te oefen vir die toernooie.

“Hoe ek op 2daMaxClub afgekom het is die feit dat ek opsoek was na toernooie.

“Hulle het toe my vernuf met die speletjie Battlefield en Call of Duty raakgesien en ek moes 80 ure se filmmateriaal bymekaar maak om aan hul te bewys hoe goed ek kan speel. Dit het my sowat ses maande geneem.”

Harry vertel dat die bedryf glad nie maklik is nie en dat die meeste mense nie werklik begryp waaroor dit gaan nie.

“Mense kyk soms neer op veral jong seuns en mans wat televisiespeletjies speel, maar ek wil hê dat mense moet verstaan dat dit nie net ‘n speletjie is nie. Hier bewys ek dat ‘n mens verder kan kom hiermee.

“Jy moet werklik ‘n passie hê vir dit, want dit is nie net kompeterend nie, maar baie tydrowend. Daar is mense daarbuite wat dit baie ernstig opneem en selfs ‘n lewe daaruit maak.”

Hy sê verder dat daar gerugte buite rond gaan dat tieners of selfs ouer mense wat televisiespeletjies wat veral sensitief is soos oorlog speletjies speel, agressief raak.

“Ek sê nie almal is dieselfde nie, maar uit persoonlike ondervinding kan ek sê dat dit die teenoorgestelde is.

“Wanneer ek kwaad is speel ek om my frustrasies uit te haal wat ek dink dit ‘n goeie manier is om so daarvan onslae te raak.”

Hy vertel dat sy vrou, Marcelle, en familie hom ondersteun.

“Ek sien baie uit na die ‘toekoms vir ‘gaming’ in Mokopane.

“Ek beplan om kort voor lank ‘n vriendskaplike toernooi in die dorp aan te bied waar enigeen welkom is om saam te kom speel. Dit is ‘n pret om saam sosiaal te verkeer en so kan liefhebbers ook meer oor die bedryf leer.”

Hy vertel ook dat daar beoog word om dié spelery in die Olimpiese Spele van 2024 in te sluit omdat dit ‘n kompeterende sportsoort geword het.

Enige speler wat belangstel kan hom op Playstation4 nooi as #eenskootsnotshot en die 2daMaxClub op Facebook besoek.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version