Betogings: Suidskoolbus met klippe bestook

Volgens die Operasionele Hoof van die skool, Jacques Bartlett, was die seuns oppad terug van 'n ligarugbywedstryd in Tzaneen toe die bestuurder van die bus gesien het die pad is versper.

POLOKWANE – Die gebed van die eerstespanrugbyseuns en die flink dink van die bestuurder van die Laerskool Pietersburg (PLS) skoolbus was die rede dat leerders en personeel van die skool nie ernstig beseer is toe hulle bus op die Mooketsi-pad onder vuur gekom het nie.

Klippe die grote van ‘n gholfbal is in die skoolbus gevind.

Bartlett sê die besonderhede van die voorval is nie duideliik nie maar hy kon bevestig dat van die bus se ruite met klippe gebreek was.

Lees ook: Rocks thrown at motorists as protests continue on the R81 near Mooketsi

“Ons is self nie seker wat gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik is nie. Al wat ons kan bevestig is dat die seuns hul sakke op hul koppe gesit het en gaan plat lê het om beserings te voorkom. Van die seuns het egter krappe en snye opgedoen as gevolg van die glas, maar niemand is ernstig beseer nie,” vertel hy.

Twee ruite van die PLs skoolbus is gebreek toe die bus met klippe op die Mooketsi-pad bestook is.

Die skool se beheerliggaam het vroeg op Vrydag, 1 Junie by die skool vergader en daar is besluit om met die Limpopo Laerskole Rugby-unie in kontak te kom om dié soort voorval te voorkom.

“Ons as beheerliggaam neem die veiligheid van ons leerders baie ernstig op en gaan daarom begin met samesprekings om tye van wedstryde te vervroeg in die toekoms sodat daar nie weer in die nag gery sal word nie,” vertel Johan Wilken van die beheerliggaam.

Glas van die gebreekte ruite het deur die bus getrek en op die sitplekke en vloer van die PLS-skoolbus te lande gekom. Niemand was ernstig beseer tydens die voorval nie.

Volgens Peet Bredenkamp, PLS se Hoof, sal die aangeleentheid tydens die jaarvergadering van die skolerugby-unie in September bespreek word.

Die seuns wat op die bus was het berading by die skool op Vrydag, 1 Junie ontvang en daar sal verder opgevolg word indien nodig om seker te maak die seuns verwerk die trauma waardeur hulle is.

PLS het ook ‘n saak by die polisie geopen wat verder deur polisie ondersoek sal word.

Die skool en beheerliggaam het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die ouers wat die seuns te hulp gesnel het en hulle gaan kry het langs die pad en veilig terug besorg het.

Glas van die gebreekte ruite het deur die bus getrek en op die sitplekke en vloer van die PLS-skoolbus te lande gekom. Niemand was ernstig beseer tydens die voorval nie.

“Die fyner details van wat alles gebeur het word nog uitgepluis en self deur die skool ondersoek. Verdere inligting sal bekend gemaak word soos dit aan die lig kon,” vertel Wilken.

Daar is reeds vir ‘n week voor die insident motoriste gewaarsku teen die gebruik van die Moketsi-pad as gevolg van betogings deur die inwoners van die area wat daarop aandring dat een van die stamhoofde afstaan.

Polokwane Polisiewoordvoerder, ao. Lesiba Ramoshaba, het bevestig dat daar ‘n saak van beskadiging van eiendom by die polisie geopen is. Die skade aan die bus moet nog bereken word deur die versekering van die skool.

Een van die ouers van die skool het anoniem met Review gepraat en vertel dat haar seun ook rugby speel en maklik in dieselfde situasie kon wees. “Ek is dankbaar dat my seun nie betrokke was nie en my hart gaan uit aan die ouers van seuns op die bus. As ouer kan ek net bid so ‘n geval nooit weer sal gebeur nie en dat die skool aksie sal neem om dit te voorkom,” sê sy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version