Bosveld NewsNews

Dorp rou oor vrou van staal

Die gemeenskap is verlede Sondag in rou gedompel met die afsterwe van Eulogia de Wet, geliefde maatskaplike werker van die Mokopane Noodforum.

MOKOPANE – Eulogia het vir 14 jaar ‘n onbaatsugtige diens aan die gemeenskap gelewer en weekliks probeer om die armoede in die dorp hok te slaan.

Sy is in die vroeë oggendure oorlede nadat pankreaskanker vroeër vanjaar by haar gediagnoseer is.

Lees ook: Noodforum in need

Ondanks haar siekte was dit vir haar steeds belangrik om met ‘n oop hand en hart haar goeie werk voort te sit by die

Mokopane Noodforum. Haar dogter, Zané, vertel hartseer haar ma het baie lewens aangeraak en oral probeer help. “As ons almal my ma se voorbeeld volg, kan ons hier op die dorp ‘n verskil maak. Só sit ons ook haar nalatenskap voort.”

Die Mokopane Noodforum waar Eulogia de Wet vir 14 jaar ‘n verskil in baie mense se lewens gemaak het.

Pieter Prozesky, voorsitter van die Noodforum bestuur, sê Eulogia se toestand het verlede Donderdag versleg nadat sy in ‘n hospitaal in Polokwane opgeneem is. Haar man, Gawie en familie was tot met haar dood langs haar hospitaalbed. “Ons gaan haar vreeslik mis. Die Noodforum se deure is steeds oop, danksy haar goeie werk het sy die personeel touwys gemaak en kan hulle onverpoos voortgaan met hulle werksaamhede. Die Noodforum lewer ‘n belangrike maatskaplike diens aan die gemeenskap en is nou betrokke by die welstand van talle gesinne. Talle behoeftiges ontvang hier berading, kos en klere. ”

Eulogia laat haar man en drie kinders, Zané, Theo en sy vrou, Sanne, asook Laubie en sy vriendin, Cathrine Grobler, na.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button