Bosveld NewsNews

Paraatheid red gesin van aanval

Jandré en Antonette de Lange, wat met groente- en pikante rissies boer, is steeds geskok oor die gebeure.

MOKOPANE – Die De Lange-gesin wat op hul plaas in die Jaagbaangebied buite Mokopane woon, was Vrydag in die vroeë oggendure amper deel van die plaasmoordstatistieke gewees toe hul huis vol gas gespuit is in ‘n poging om in te breek.

Jandré en Antonette de Lange, wat met groente- en pikante rissies boer, is steeds geskok oor die gebeure.

Lees ook: Roedtan plaasaanval: 3 verdagtes vasgetrek

Antonette vertel sy en haar man slaap saam met hulle driejarige en 10-jarige kinders, asook twee honde in dieselfde kamer om hul veiligheid te verseker.

“Op ons stoep is ‘n alarm wat daardie aand heeltyd bly afgaan het. Sy afstandbeheertoestel het vroeër in die week weggeraak en ek het dit dieselfde dag vervang.

“Ons het om 01:30 wakker geword van ‘n slag.

“Jandré het met geweer in die hand om die huis geloop nadat ek ons buurtwag gebel het.

“Ons boerboel wat altyd in die sitkamer slaap, was vas aan die slaap waar hy gelê het. Jandré het om die huis geloop en ‘n vreemde gasbottel, met ‘n pyp nie ver van die venster af nie sien lê.

“Die kombuisvenster was ook stukkend. Dit is toe dat ons besef dat die kwaaddoeners ons wou vergas en eers seker gemaak het die aggresiewe boerboel is uit die pad.”

Volgens die egpaar is daar duidelike moddervoetspore op hulle grasperk en hulle het Sondag’n stapel klippe wat lyk soos ‘n merker, in hul tuin opgemerk.

“Die booswigte moes geweet het wat binne ons huis aangaan en wat hulle daar kan steel.

“Hulle het immers geweet presies waar die boerboel elke aand slaap.”

Die egpaar het besluit om nie die saak by die polisie aan te meld nie, omdat hulle meen dit nie gaan help nie.

Met Bosveld en Marcelle Maritz, VF+ raadslid se besoek aan die gesin dieselfde dag, was die boerboel nogsteeds lomerig.

Antonette vertel as hulle nie wakker geword het nie, kon die aanval tragies geëindig het.

“Ons het veiligheid opgeskerp en is meer waaksaam omdat ‘n mens altyd dink ‘n plaasaanval sal nie met jou gebeur nie, tot dit wel gebeur.

“Ons het ook by die Rooikatte Buurtwag ingeskakel.”

Die gesin bedank hulle bure wat binne minute by hulle opgedaag het om hulp te verleen.

Maritz sê sy wil voorstel dat alle boere elke werker se inligting op rekord moet hou.

“Meeste aanvalle is vanuit die binnekring van jou eie plaaswerkers.”

“Dit is noodsaaklik om by buurtwagte en bewegings met veiligheidsraamwerke aan te sluit.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button