Local NewsNews

KANSA se ‘engel’ nou rustig by Jesus

Trix Kotze-Viljoen het na haar aftrede in die middel 1990's by die destydse Theunis Fichardt Hospitium gaan werk.

POLOKWANE – Die Kankervereniging van Suid Afrika (Kansa) kon nie voltydse verpleegsters bekostig nie en ‘n span ad hoc verpleegsters is op die diensrooster geplaas. Daar was sy verpleër, matrone en later bestuurder van die hospitium totdat sy in 2013, na 15 jaar, daar weg is.

Sy is verlede Donderdag op 80-jarige ouderdom oorlede.

Erna Maré, wat destyds die hospitium bestuur het, sê in ‘n blog oor die formidabele vrou: “My hart pyn, dis nie net sommer iemand wat ons vooruit is nie. Dit is ‘n aardse engel, ‘n verpleegster in murg en been, ‘n gelowige mens, onse Trix”.

Só beskryf sy haar: “Suster Trix Kotze. Nie ‘n haar uit sy plek, silwergrys en statig gestileer en die mond altyd ‘n sagte pienk gekleur en kyk, daardie epoulette op haar skouers het jy respek voor gehad”. Sy beskryf hoe Trix en haar span die hospitium soos ‘soos ‘n goedgeoliede masjien’ bestuur het. “En die dissipline ten spyt, is liefde en meelewing en empatie vir kankerpasiënte en hulle families in oordosis uitgedeel.”

Sy onthou Trix as iemand wat altyd alles voluit gedoen het: Van verpleeg, tot ma- en oumawees vir haar kroos. “Ek onthou hoe liefdevol sy haar eggenoot Boet destyds deur die trauma van diabetes en amputasie onderskraag het. Dis jare later, maar die tye saam met hierdie spesiale vrou en haar kollegas sal altyd my beste jare bly. Trix, ek weet ‘n engelskare het gejuig toe ons Jesus Sy arms vir jou oopgegooi het om jou styf teen Sy hart te druk. Jy was Sy hande en hart hier tussen ons. Tot wedersiens.”

Julie Bosch was Trix se vriendin vir die afgelope 55 jaar en het die mooiste herinnering van Trix. Sy kan honderde staaljies oor Trix vertel sedert hulle mekaar by die destydse Tshilidzini sendingstasie en hospitaal ontmoet het. Sy vertel van Trix se oorlede man, Boet, haar groot liefde vir die Here en vir kinders. Trix het ses kinders versorg, van wie sy twee, ‘n broer en suster, later aangeneem het: Tiens Kotze en Ansie, nou Venter.

Trix is in 1973 met Boet Kotze getroud. Hy is sowat 12 jaar gelede oorlede en twee en ‘n half jaar gelede is sy met Klasie Viljoen getroud. Julie vertel van hul ‘Vroue vir Christus’ beweging en hoe Trix vir oorlede Jack Botes se vrou, Myrtle, ingesmokkel het en ‘n bed laat indra het in sy kamer toe hy op sy laaste gelê het sodat sy by hom kon wees in die nag as hy dalk sou sterf.

“Sy het nie omgegee oor kleur of status nie. Sy het altyd haar beste vir die Allerhoogste gegee. Ek sal haar altyd onthou. Sy was altyd vriendelik en liefdevol. Ons was gebedsmaats, singmaats, kuiermaats en lagmaats. Watter vreugde het die vrou nie in mense se lewens gebring nie! Ek is seker sy werk al weer daar bo – sy sit seker daar bo en vryf die Here se voete vir hom. Sy is nou veilig by die Here.”

Ansie Venter, haar dogter, vertel dat Trix haar 47 jaar gelede as dogtertjie van een jaar oud saam met haar broer Tiens aangeneem het.”Almal was lief vir haar en sy het elke liewe mens in haar hart gedra. Sy was ouma vir almal en het katte en honde van die straat af ingeneem en versorg. Ons gaan haar baie mis,” vertel sy deur haar trane.

Sy wil haar dank ook teenoor Rose, die huishulp wat haar ma versorg het, uitspreek.

Trix laat ook haar man, Klasie, na. ‘n Huldigingsdiens word Vrydag, 8 Junie om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in Websterstraat gehou vir Trix.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button