Transitorooftogte: Ses in hof, drie gevonnis oor plofstof, een doodgeskiet

Kommer heers oor die toename in transitorooftogte wat byna daagliks landwyd aangemeld word en op plaaslike bodem het twee voorvalle in agt dae in en rondom Polokwane plaasgevind. In die jongste voorval het die polisie Dinsdag­aand vier verdagtes wat glo vroeër die aand by ‘n transitorooftog naby Letsitele betrokke was op die Hoedspruit/Lydenburgpad aangekeer en …

Kommer heers oor die toename in transitorooftogte wat byna daagliks landwyd aangemeld word en op plaaslike bodem het twee voorvalle in agt dae in en rondom Polokwane plaasgevind.
In die jongste voorval het die polisie Dinsdag­aand vier verdagtes wat glo vroeër die aand by ‘n transitorooftog naby Letsitele betrokke was op die Hoedspruit/Lydenburgpad aangekeer en ‘n verdagte doodgeskiet.
Provinsiale kommunikasiehoof van die polisie, Motlafela Mojapelo sê twee voertuie met ongeveer tien verdagtes het op die geldwa op die R71 losgebrand. Toe die voertuig tot stilstand kom het die verdagtes glo die wagte uit die voertuig gedwing waarna hulle plofstof gebruik het om die kluis oop te skiet en van die toneel af gevlug het.
Die polisie het vinnig gereageer en plaaswag­lede het gehelp om padblokkades op te rig. Een voertuig met vyf verdagtes is naby Swadini voorgekeer en ‘n skietery het ontstaan waarna een doodgeskiet is en drie gearresteer is. Een het gevlug.
Die tweede voertuig is naby die JG Strydom-tonnel voorgekeer waar hulle op die polisie losgebrand het wat daarin kon slaag om nog ‘n verdagte vas te trek terwyl die ander gevlug het. Tydens die arrestasie is twee AK47-aanvalsgewere en ‘n R4-geweer, ‘n pistool, koeëlvaste baadjies, twee sakke geld en blou ligte gevind.
Die verdagtes sal binnekort in die Tzaneen landdroshof verskyn.
Intussen sal Howard Hlophe (33), Isaac Seranotswe (40), Nkosingiphile Msimango (39), Daniel Bambiso (49), Collen Hlungwani (39) en Lethabo Ntlhane(26) volgende verlede week in die Seshego landdroshof om borgtog aansoek doen vir hul beweerde betrokkenheid by ‘n transitorooftog op die Matlalapad net buite die stad verlede Maandag. Die betrokkenheid van ‘n sewende verdagte word nog ondersoek.
Tydens die rooftog is die pantserwa van die pad af geforseer nadat die verdagtes glo op die voertuig se wiele losgebrand het. Die wagte is uit die voertuig geboender en aangehou terwyl die kluise gebombardeer is voordat die skurke op die vlug geslaan het.
Die Matlalapad was vir etlike uur gesluit terwyl die polisie hul ondersoek afgehandel het. Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het ook die toneel besoek en dadelik ‘n taakspan aange­stel en ‘n soektog na die verdagtes geloods.
Van die verdagtes is kort na die voorval aangekeer terwyl ander gedurende die nag in Seshego gearresteer is. Tydens die arrestasie is ‘n Toyota Hilux-bakkie en Ford Kuga-nutsmotor met koeëlgate gekonfiskeer wat onlangs in Gauteng as gesteel aangemeld is. Plofstof, geldsakke, vuurwapens en ammunisie is ook gevind.
Limpopo Valke-woordvoerder, Ma­timba Maluleke, sê hoop dat die vonnisoplegging van drie mans wat verlede Woensdag in die Limpopo Hooggeregs­hof op aanklagte van diefstal en die verkoop van plofstof skuldig bevind is, as duidelike waarskuwing vir ander misdadigers en veral transitorowers sal dien.
Hy sê die kollig is tans op die grootskaalse styging in transitorooftogte, maar wat dit meer kommerwekkend maak, is die aanwending van kommersiële plofstof wat in myne gebruik word, om kluise tydens transitorooftogte oop te skiet.
“Gereelde operasies deur die polisie werp vrugte af deur verdagtes wat plofstof onwettig verskaf, voor stok te kry,” sê Maluleke en verwys na voormalige werknemers van ‘n myn in Northam, Gobakwaoana Emmanuel Molokoane (33), Thapelo Tumela Kekana (34) en Peter Boy Tselane (37) wat elk in die hoërhof tussen 15 en 30 jaar tronkstraf op plofstofverwante klagte opgelê is. Molokoane en Kekana is elk 30 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle aan die onwettige handel, verskaffing en besit van plofstof sowel as diefstal daarvan skuldig bevind is. Tselane is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir diefstal van plofstof.
Die Limpopo-wetgewer het die polisie met die suksesvolle arrestasies geluk gewens en gesê hulle moet daarop voortbou om Limpopo ‘n veiliger plek vir almal te maak.
Intussen het Fidelity Security Group se hoof-uitvoerende beampte, Wahl Bartmann in ‘n persverklaring gesê die situasie met transitorooftogte in Suid-Afrika is buite beheer. “Ten spyte van pogings om beter saam met owerhede en rolspelers te werk, styg die voorvalle steeds. Vanjaar is reeds 135 transitorooftogte landwyd aangemeld. Fidelity het slegs verlede maand meer as R4,5 miljoen spandeer om hul hulpbronne en bates sowel as personeel te be­skerm,” sê Bartmann.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version