Local NewsNews

Tommie-rugbyspeler, Herman Potgieter sterk goed aan na rugbesering

Familie van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé-leerder, Herman Potgieter, het gister (Woensdag) steeds op die uitslag van ‘n MRI-skandering gewag nadat dié eerstespanflank onlangs ‘n rugbesering tydens ‘n oefening opgedoen het. “Herman vorder goed, maar loop moeilik. Hy sukkel-sukkel voort en is by die skool om eksamen te skryf. God is groot en ons glo …

Familie van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé-leerder, Herman Potgieter, het gister (Woensdag) steeds op die uitslag van ‘n MRI-skandering gewag nadat dié eerstespanflank onlangs ‘n rugbesering tydens ‘n oefening opgedoen het.
“Herman vorder goed, maar loop moeilik. Hy sukkel-sukkel voort en is by die skool om eksamen te skryf. God is groot en ons glo en vertrou dat daar nie ernstige kompli­kasies gaan wees nie,” sê sy pa, Eben wat sy dank teenoor hoërskole Pietersburg, Ellisras en Louis Trichardt asook Hoër Tegniese Skool Tom Naudé vir hul ondersteuning en gebede uitgespreek het. Hy sê plaaslike skeidsregters, Zander Kubannek en Sakkie Meyer sowel as Limpopo Blou Bulle Rugby-unie en Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se woorde van hoop word waardeer.
Hy het blykbaar sy rug tydens ‘n duikslag seergemaak toe hy skeef geval het. “Drie weke gelede is hy deur ‘n taxibestuurder in Bendor van sy fiets afgery en het skraapwonde opgedoen en van ligte rugpyn gekla, maar ons kan nie sê of Herman se rug tydens die ongeluk al seergekry het en die besering tydens oefening vererger is nie,” meen Eben wat langs die veld was toe sy seun beseer is.
Hy het moeilik opgestaan nadat hy geval het en gesukkel om te loop. Hy is die volgende dag na ‘n fisioterapeut wat aanbeveel het dat hy dadelik X-straalplate moet laat neem. “Die oorspronklike diagnose was ontwrigting van sy L3- en L4-werwels met ‘n moontlike fraktuur op die L4-werwel. Ons het later goeie nuus gekry dat dit net ‘n fasetontwrigting is wat erge spasmas in die rug veroorsaak,” sê Eben. Hy is ook vir ‘n MRI-skandering gestuur voordat behandeling begin word.
Herman se besering kom kort na die voorval tydens ‘n rugbywedstryd verlede maand teen Hoërskool Warmbad waarin o.16-rugbykaptein, Koben Hofmeyer, van Hoërskool Louis Trichardt sy nek beseer het en operasies in ‘n Pretoriase hospitaal moes ondergaan.
Hy het sy C4- en C5-nekwerwels seergemaak en sy C6-wer­wel ontwrig, maar het reeds sy sensoriese gevoel in sy tone teruggekry en onder meer besoek van Springbokrugbyspe­lers, Victor Matfield en Jesse Kriel, in die hospitaal ontvang om hom sterkte toe te wens.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button