Local NewsNews

Moeder Theresa van hospitium oorlede

Trix Viljoen, voorheen Kotze, het Donderdagoggend tuis na ‘n beroerte gesterf, maar sal voortleef in die gedagtes en lewens van almal wat die uitsonderlike vrou se paaie gekruis het. Familie en vriende is dit eens dat sy as verpleegkundige en mens ‘n onuitwisbare indruk gemaak het met haar deernis- en liefdevolle persoonlikheid. Na haar aftrede …

Trix Viljoen, voorheen Kotze, het Donderdagoggend tuis na ‘n beroerte gesterf, maar sal voortleef in die gedagtes en lewens van almal wat die uitsonderlike vrou se paaie gekruis het.
Familie en vriende is dit eens dat sy as verpleegkundige en mens ‘n onuitwisbare indruk gemaak het met haar deernis- en liefdevolle persoonlikheid.
Na haar aftrede as gesondheids­werker by die voormalige provinsia­le administrasie het sy in 1991 haar gewig by die Theunis Fichardt Hospitium as ad hoc-verpleegkundige ingegooi en is mettertyd as hoofverpleegkundige en matrone aangestel waar sy vir ongeveer 10 jaar onbaatsugtige diens gelewer het en ook as berader en vertrooster van kankerpasiënte en hul dierbares tot met haar aftrede opgetree het.
“Trix was ‘n aardse engel, verpleegkundige in murg en been en ‘n diep gelowige mens. Ons paaie het gekruis toe die hospitium wat ek vir Kansa bestuur het, nie permanente personeel kon beskostig nie, en ons met ‘n oorlewingsplan die dienste van ‘n klomp formidabele pasafgetrede verpleegsters bekom het om hulle by ons liefdestaak aan te sluit. Een was suster Trix Kotze wat saam met haar kollegas gesorg het dat alles soos ‘n goed-geoliede masjien loop en dat liefde en meeleweing vir kankerpasiënte en hulle families in oordosis uitgedeel is. Ek onthou hoe liefdevol sy haar eerste eggenoot, Boet, destyds deur die trauma van diabetes en amputasie onderskraag het. Saam het ons vir honderde kankerpasiënte en hulle families dit moontlik gemaak om hul laaste dae met waardigheid en opregte omgee te spandeer,” sê Erna Maré.
Nog ‘n jare lange vriendin en hospitiumkollega, Lynne O’Reilly, sê Trix sal onthou word as die moeder Theresa van die hospitium. Haar opregte Christelike lewe het na almal rondom haar uitgestraal en sy sal onthou word vir haar liefde, opregtheid en empatie.”
Yvonne Terblanche, ook ‘n vriendin en hospitiumkollega sê Trix het elke mens met die grootste deernis behandel en terminale siek pasiënte se hand tot die einde vasgehou en vir hul gebid.
In 2016 is sy met Klasie Viljoen (87) getroud en het ‘n sterk band met sy kinders, Liana, en haar man, Peet Bredenkamp, en Ronel en haar man, Andre Koorts, en húl kinders gehad.
“Ma Trixie het ons met liefde en omgee toegevou. Sy was innig lief vir my pa en het elke dag vir ons gesê hoe lief sy ons het en hoe bly sy is dat my pa haar gekies het. Sy was ‘n lewende getuienis van God se liefde en ‘n ma en ouma vir die hele stad.”
Trix (80) het verlede jaar ‘n knieoperasie gehad en moeilik daarna herstel. Sedertdien het sy met haar gesondheid gesukkel en die afgelope vier maande vinnig agteruit gegaan terwyl sy enduit tuis deur haar geliefdes versorg is.
Klasie sê dit is met groot vreugde dat hy kan sê die Here het vir hom ‘n engel uit die hemel gegee nadat sy eerste vrou 35 jaar gelede oorlede is. “Ek glo die Here het ‘n ma en ouma vir sy engele gesoek en haar daarvoor kom haal. Elke oomblik saam met haar was ‘n voorreg vol geluk. Ek gaan haar baie mis.”
Hy het sy opregte dank teenoor die gemeenskap vir jare se getroue liefde vir Trix, wat onder die jonger geslag as ouma Tiekie bekendge­staan het, uitgespreek.
Sy word ook oorleef deur twee kinders, Ansie Venter en Thinus Kotze, en kleinkinders.
‘n Huldigingsdiens vind Vrydag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk, Welgelegen plaas.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button