Baba Jayden wag nog op operasie

Waar ander 21-jariges op hul verjaarsdag kuier en tyd saam met vriende en familie spandeer, spandeer Michelle Deacon dié spesiale dag by haar seun, Jayden, in die hospitaal.

POLOKWANE – Jayden is ses weke gelede gebore na ‘n normale swangerskap. Ongeveer twee weke gelede het hy probleme begin ondervind om melk wat hy gedrink het binne te hou.

Na vele doktersbesoeke en nagte in verskeie hospitale, is Jayden Donderdagmiddag laat na die Dr George Mukhari Hospitaal in Ga-Rankuwa noord van Pretoria oorgeplaas waar hy nou behandeling ontvang.

Lees meer: Baba Jayden na Ga-Rankuwa vir operasie oorgeplaas

“Jayden was heel rustig oor die naweek. Hy het bietjie gekla van krampe, maar dit was vinnig oor en verby. Ek mag hom darem vashou, maar ek verkies dat hy lê en nie die heeltyd in my arms is nie. Sedert ons by die hospitaal aangekom het was hy al driekeer getoets, eenkeer ‘n dag, om hom te monitor. Die dokter het Sondag Jayden vir die nodige operasie voorberei maar daar was baie ander noodgevalle en Jayden se operasie is vir eers uitgestel. Volgens die dokters gaan hulle hul bes probeer om hom vandag te opereer,” vertel sy Maandag aan Review.

Baba Jayden Deacon.

Jayden ontvang steeds binnesaarse voeding deur ‘n drip en die dokters het vir Michelle gese sy mag nie vir hom melk gee nie aangesien hulle wil verhoed dat hy opbring. “Die dokters wil hê Jayden moet so sterk as moontlik wees vir die operasie,” vertel Michelle.

“My man, Rocky, kan nie by ons wees nie aangesien hy moet werk. Hy werk nou langer ure sodat daar meer geld kan inkom vir Jayden. Hy is so hartseer omdat hy nie hier kan wees nie maar omstandighede is ook nie goed nie.”

Michelle vertel dat dokters gesê het dat Jayden, indien hy na wense vorder, binne 24-uur na die operasie ontslaan kan word. “Ek hoop vir die beste en probeer sterk staan vir Jayden se part.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version