Help jong ouers met mediese sorg vir hul baba

Kort voordat hy 'n maand oud was, het Jayden Deacon gesukkel om melk in te hou en na talle besoeke aan dokters en hospitale was hy in die Mankweng Hospitaal opgeneem.

POLOKWANE – Sy pa, Rocky, vertel dat Jayden en Michelle, Jayden se ma, vroeg Donderdagoggend vanaf Louis Trichardt na Mankweng geneem is per ambulans.

“Hy is ons enigste kind,” vertel die bekomerde Rocky. “Michelle het ‘n normale, gesonde swangerskap gehad en daar was ook geen komplikasies met die geboorte nie. Sy het wel gesukkel om Jayden te borsvoed en hy het begin blikmelk drink.”

Die gesin bly in Thohoyandou en Rocky vertel dat vyf dae kort van ‘n maand oud, het Jayden glad nie kos ingehou nadat hy gedrink het nie.

“Ons was bekommerd en het hom na die Tshilidzini Hospitaal geneem. Dokters het bloed getrek en hom op ‘n drip gesit. Die volgende dag is hy ontslaan en dokters het vir ons gesê hulle kry nie fout met hom nie. Twee dae later het ons hom terug geneem met dieselfde probleem en hulle het weer vir ons gesê daar is nie fout nie. Ons was sprakeloos, want Jayden hou geen melk binne nie, maar die dokters sê daar is niks fout nie.” Hulle het ‘n afspraak gemaak by ‘n privaat dokter in Louis Trichardt en dié het Jayden op 18 Mei ondersoek.

Jayden Deacon. Foto: Verskaf

“Die dokter het vir ons gesê dat Jayden moontlik ‘n operasie sal moet ondergaan om hom te help om kos binne te hou. Die dokter het ‘n beraming van R50 000 gegee vir die operasie, wat ver bo ons vuurmaakplek is. Michelle het skaars begin werk toe Jayden siek geword het en het gevolglik haar werk verloor omdat sy die heeltyd by hom moes wees. My salaris is nie van so ‘n aard dat ons ‘n mediese fonds kan bekostig nie.”

Jayden is in Polokwane deur ‘n privaat dokter ondersoek wat sy melk verander het om te kyk of dit sou help en na ‘n paar dae het die melk en die medikasie gehelp dat Jayden vir die eerste keer die melk kon inhou.

“Alles was reg tot Sondagaand toe. Jayden se maag het bloed gewerk en hy het weer begin opbring. Maandagoggend het ons hom weer na die hospitaal geneem waar hulle weer bloedtoetse gedoen het. Daarna het hulle hom na Thohoyandou oorgeplaas en Woensdagmiddag het hulle besluit om Jayden na Mangkweng Hospitaal oor te plaas.”

Intussen is die ouers baie bekommerd oor hul seun. “Hy verloor gewig en sy ogies val al terug in sy oogkaste. Ons wag nou om te hoor wat die dokters sê. Ons sal hom graag na ‘n privaat hospitaal wil laat oorplaas vir gespesialiseerde en individuele sorg.”

Volgens Jayden se ouma, Marietjie Wolmarans, het toetse gewys dat daar ‘n vergroeisel in Jayden se maag is.

“Daar is ‘n tipe vergroeisel in sy maag wat vergroot elke keer as hy eet wat dan daartoe kan lei dat sy maagkleppe nie toegaan nie. Dit veroorsaak dan dat die kos wat hy geëet het weer terugstoot. Dit word hipertrofiese maagsluitspiervernouing (hypertrophic pyloric stenosis) genoem. Dit is lewensgevaarlik en hy sal nie oorleef sonder ‘n operasie nie.”

Die gesin het Child Medi Organisation gekontak om hulp te vra om Jayden oor te plaas en om al die ander mediese onkoste te help dek en hulle het vir hom ‘n rekening oopgemaak.

Child Medi Organisation.

FNB tjekrekening.

Rekeningnommer: 626 325 810 56.

Takkode: 250655.

Swiftkode: firnzajj.

Verwysing: Baba Jayden.

Diegene wat meer inligting verlang kan Child Medi Organisation per e-pos by info@childmedi.org kontak. Seksie 18(A) belastingsertifikate is beskikbaar vir individue en besighede wat ‘n finansiële bydra tot Jayden se sorg maak.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version