Onnie herstel na krokodilaanval

Lana Steyn sê sy is op die herstelpad nadat sy vroeër vanjaar 'n krokodilaanval oorleef het wat haar hand vermink het.

POLOKWANE- Sy deel graag haar storie maar is wel bekommerd oor hoe die kinders by die skool gaan reageer wanneer sy weer haar pos as onderwyser hervat.

Krokvrou nét betyds, sê plastiese sjirurg

“Ek het nog altyd ‘n passie vir kinders en om ‘n onderwyser te wees is iets waarop ek besonder trots is,” sê sy. Hulle gaan vandag (Donderdag) haar verbande verwyder en dan gaan sy vir die eerste keer werklik sien hoe haar hand na die ongeluk lyk.

“Ek het gemengde gevoelens. Ek is nie seker of dit my bestuurvernuf en my vermoë om alledaagse take uit te voer sal beïnvloed nie. Ek sal maar moet aanpas maar ek is van geaardheid ‘n baie positiewe mens en ek glo als sal goed verloop.” Sy sê sy het na die aanval al verskeie operasies ondergaan om haar hand te herstel, onder andere ‘n veloorplanting en ‘n beenskawing.

“Dokters moes my ringvinger amputeer want dit het my genesing vertraag, maar ek is op die stadium baie positief.”

Leerders van Laerskool Pietersburg het ook onlangs ‘n geldinsamelingsinisiatief gehou en ‘n oorhandiging gemaak om haar met die mediese onkostes te help.

“Ek kan waarlik net dankie sê vir elke persoon wat ‘n bydrae maak. Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ek is nie en as dit nie vir die ondersteuning was nie sou ek my hele hand verloor het.”

reporter03@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version