Bosveld NewsNews

Boewe breek ruit uit om te plunder

'n Bejaarde inwoner, Sidney van Trotsenburg, is ontsteld oor die inbraak by sy huis Dinsdag helder oor dag en ook nie tevrede met die diens van die polisie nie.

MOKOPANE – Daar is Dinsdag tussen 10:00 en 13:00 by Sidney van Trotsenburg se huis in Mogolstraat, Nylparkarea ingebreek.

Van Trotsenburg sê: “Ek en my vrou, Ansie, het om 10:00 gaan inkopies doen. Teen 13:00 toe ons by die huis kom sien ons die voordeur staan wawyd oop.

Lees ook: Bejaarde egpaar dankbaar om te lewe na aanval op hulle plaas

“Ek het besef daar is ingebreek en het dadelik die polisie gebel, maar teen 16:30 was daar nog geen teken van ‘n beampte by my huis nie. Vroue-offisiere, wie se name ek nie kon uitmaak nie, het eers om 16:33 hier aangekom.”

Van Trotsenburg verduidelik dat hy met oogopslag kon sien dat daar ‘n televisie, kraggereedskap en vleis uit sy huis gesteel is.

Die inbrekers het oral in die kaste gekrap.

“Daar is duidelike merke teen die ruite rondom die huis waar die inbrekers wou inkom.

“Hulle het toe toegang gekry deur ‘n venster agter die huis halfpad uit te breek. Kaste en bedkassies in elke kamer van die huis is oopgemaak en deursoek.”

Van Trotsenburg sê hy is teleurgesteld met die polisie se diens.

“Daar is vir my gesê hulle het net een voertuig om mee te ry. Hoe kan dit wees? Teen 23:00 Dinsdagaand het ek eers ‘n saaknommer gekry.”

Kol. Leshoaneng Mantjane, Stasiebevelvoerder van die Mokopane Polise, sê: “Wie ookal die beampte was wat gesê het dat daar net een voertuig by die stasie is, jok.

“Ons het verskeie voertuie vir ons pligte. Die klaer moet my kom sien met sy klagtes sodat ek dit verder kan opneem met die offisier wat hom gehelp het. Voordat hy dit nie doen, het ek geen bewyse dat dit wel gesê is nie.”

Die publiek word sterk aangeraai om enige klagtes aangaande die Mokopane Polisie by kol. Mantjane aan te melt.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button