Local NewsNews

Kenner gee raad oor hoe om wys te belê

Review het met ‘n ervare finansiële beleggingsadviseur gepraat om te verneem watter raad hy sou gee voor iemand geld in enige skema of by enige persoon belê of sy geld aan ‘n persoon toevertrou.

POLOKWANE – André Naudé van PSG Wealth is al langer as 14 jaar in die stad en is alombekend in finansiële kringe.

“Mense wil altyd meer geld verdien en hulle wil vinnig geld maak deur nie van die die beproefde geleenthede gebruik te maak nie aangesien dit ‘ou tegnologie’ en ‘outyds’ is. Daar is nuwe en beter maniere om jou geld meer winsgewend te laat groei, sal mense jou vertel, en dit klink soos ‘n goeie manier om geld te verdien sonder om hard daarvoor te werk.”

Lees meer: Choice-debakel brei uit

Hy waarsku egter dat mense beleggingsgeleenthede baie noukeurig moet ondersoek.

“Beleggingsbedrog is ‘n spesiale soort bedrog waarin individue hulself as beleggingsmakelaars of finansiële adviseurs voordoen en met uitsonderlike hoë opbrengste spog. Verder word verwysings van vriende of toonaangewende individue gebruik om jou te oorreed om geld by hulle te belê.

Lees meer: Beleggers in Choice Lifestyle dien aansoek in by Hooggeregshof

“Jy moet weet na watter tekens opgelet moet word wanneer hierdie beleggingsvoorstelle gedoen word. Verder moet jy jou nie steur aan braaivleispraatjies oor beleggings nie, mense hou daarvan om te spog oor hoeveel geld hulle gemaak het, terwyl hulle geen ondersoek daarna gedoen het nie. Dit is belangrik dat ‘n mens bedag moet wees op die gevare: piramideskemas verteer jaarliks miljarde Rande en niksvermoedende beleggers kan hul totale voorsiening verloor.”

Wees bedag op die volgende:

• Bevestig die agtergrond van die instelling en adviseur. Moenie val vir indrukwekkende titels of ‘n suksesvolle voorkoms nie. Vra: “Is die adviseur ‘n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP of certified financial planner) of net ‘n lid van ‘n professionele ligaam soos die FPI (Financial Planning Institute of Southern Africa)? Is beleggings sy spesialisarea?”
• Doen deeglike navorsing oor die maatskappy waar jy jou geld wil belê, gaan self die instansie na deur met die Finansiële Diensteraad (FDR) self te kontak en uit te vind of die instansie gemagtig is om die diens te lewer en hulle daarvoor geregisteer is. Die FDR is baie hulpvaardig en help met die grootste graagte.
• Wees skepties oor beleggingsvlakke wat ‘n sekere opbrengs waarborg of uiters lonende winste of opbrengste beloof. “Die realiteit is dat elke belegging risiko insluit,” waarsku hy.
• Ontmoet die adviseur by sy kantoor, moet nie toelaat dat hy daarop aandring om jou by jou huis of kantoor te besoek nie. Gewoonlik het hulle self geen insette (kantore, ens.) nie en daarom is die doel alleen om jou van jou geld te skei.
• Neem jou tyd met ‘n besluit nadat jy ‘n voorstel ontvang het. As die adviseur jou vertel dat die aanbod slegs vir ‘n beperkte tyd is, of dat beleggingsgeleenthede beperk is, beskou dit ‘n rooi vlag. “Sodra ‘n adviseur druk op jou toepas beteken dit dat daar vir hom meer in die transaksie is as vir jou, loop dan in elk geval weg,” is Naudé se raad.
• Moet nooit verplig voel nie.
Moenie belê omdat jou werkgewer, jou beste vriend of familielid daar belê het nie. Gewoonlik vertel hulle hoeveel geld hulle nou al vir die afgelope tyd daar verdien het, wat gewoonlik net grootpraat is.
• Vertrou nooit iemand wat ‘n hoë opbrengs oor ‘n kort tydperk beloof nie. Bo-markopbrengs is die nommer een kenmerk van beleggingsbedrog. Dit is die aas wat ontwerp is om jou te haak.
• Pasop vir ‘n makelaar wat daarop aanspraak maak dat hy spesiale kontakte, ‘geheime’ of ‘binne-inligting, nie vir die algemene publiek beskikbaar’ het. Om geld op binne-inligting te maak is onwettig, en daar is geen ‘geheime’ tot goeie belegging nie.
• Vermy beleggingstrategieë met gesofistikeerde terminologie in plaas van algemeen-gebruikte woorde. Kyk of jou beleggingsadviseur die belegging verstaan deur dit in eenvoudige taal aan jou te verduidelik.
• Pasop vir enige belegging wat vanaf ‘n oorsese plek aangebied word.
• Wees versigtig vir enige belegging sonder ‘n prospektus of memorandum. Vermy enige adviseur wat die belangrikheid van openbaarmakingsdokumente, wat deur die wet vereis word, as blote ‘formaliteite’ verwerp.
• Wees versigtig vir enige beleggingsverkoper wat nie wil hê jy moet ‘n tweede mening kry nie.
• As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik. Vermy beloofde rentekoerse hoër as die bankuitleenkoers.
“Wanneer die skema gelikwideer word gaan jy elke sent wat jy aan ‘rente’ verdien het aan die likwidateur terugbetaal. Dus verloor jy nie net jou kapitaal nie maar dalk jou huis ook.”

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button