Stad rou oor legende Eli Ströh

Die alombekende besigheidsman, eiendomsontwikkelaar, waardeerder en boer, Eli Ströh, is op Sondagoggend, 6 Mei vroeg by sy huis in die stad oorlede na ‘n lang siekbed.

POLOKWANE – Ströh was 80 jaar oud en is reeds in 2015 met limfoomkanker fase 4 en velkarsinoom gediagnoseer.

Die besigheid wat hy in 1968 in Polokwane gestig het, Eli Ströh Property Services, herdenk vanjaar sy 50ste jaar.

Lees ook: OPVOLG: Oom Eli baie positief sê seun

‘n Vriend van meer as 60 jaar, Theo Goosen, van Theo Goosen Eiendomme, vir wie Ströh die grootste respek gehad het en wie hy as sy mentor en leermeester gesalueer het, vertel dat Ströh aanvanklik motor-onderdele en versekering in Polokwane verkoop het. Later is hy na Louis Trichardt waar hy by die Datsunagentskap gewerk het voor hy, met die belofte van ‘n ander werk, weer na Polokwane teruggekeer het. Die werksgeleentheid het egter deur die mat geval en toe hy by Goosen vir ‘n woonplek gaan soek, het dié aan hom ‘n werksaanbod gemaak.

“Sy eintlike loopbaan het in my kantoor begin,” skerts Goosen. Hy onthou vir Ströh as ‘n “eerlike en reguit mens, iemand met ‘n skerp intellek en baie hardwerkend. Hy het nie ‘n skelm haar op sy kop gehad nie”.

‘n Paar jaar later het Ströh sy eie besigheid begin, maar ten spyte daarvan dat hulle eintlik opposisie was, het hy en Goosen gereeld saans ‘n bier of whisky saam gedrink en gesels. Hulle het gereeld saamgewerk en ook munisipale waardasie-apélle en later ook waardasierolle vir die munisipaliteit gedoen. Hy vertel ook van Ströh se tyd as kaptein van die gholfklub, hoe hy rugby gespeel het en sy liefde vir die natuur en diepseeduik. Ströh het ook tydrenne gery, onder andere saam met Gus Menzies, en in dié kringe bekendheid verwerf.

Die twee vriende het ‘n lang pad saamgeloop en laasjaar nog saam Ströh se 80ste verjaarsdag gevier.
Jannie Moolman van die Moolman-groep en Ströh het lank saamgewerk.

“Eli was ‘n legende in sy tyd. Hy was baie bekend in die eiendomskringe, plaaslik en elders in die land. Hy was ‘n hoogsgerespekteerde persoon en ook as eiendomskenner, -makelaar en ontwikkelaar. Sy naam was wyd en syd bekend en talle finansiële instellings het staatgemaak op sy kennis as waardeerder en eiendomsmakelaar. Hy het werklik diep spore in die gemeenskap getrap,” sê Moolman.

Ströh was sakevriende en raadgewer van talle oud-Polokwaniërs, baie van wie al reeds oorlede is, soos Jack Botes, en ander wat sy laaste verjaardagviering bygewoon het soos Ronnie Pratt, Len Baker, Hennie van Rensburg, Peet van Zyl, Tim Scholtz, en ds. Dopper Erasmus.

‘n Ander groot vriend van hom, Wes Matthews, is verlede week oorlede. Ook Gert Moller, wat as Ströh “beste vriend” deur sy seun Jan beskryf word, is reeds ongeveer sewe jaar gelede oorlede.

As stigterslid van die Pietersburg Klub en die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereninging (South African Property Owners Association, Sapoa) was Ströh welbekend. Hy het ook by geleentheid vir regter Anthonie Geldenhuys bygestaan as assessor in grondeise gedurende die vroeë negentigerjare.

Soekie Coetzee, sy sekretaresse wat vir 11 jaar, tot 2015, by hom gewerk het vertel dat Ströh baie goed was vir sy personeel en hulle dikwels gehelp het. “Vir my het hy net met deernis, liefde en respek behandel. Hy was nooit lelik met my nie, al was hy soms erg omgekrap of vies vir iemand.”

Sestig jaar gelede het Ströh met sy bakkie ‘n jong nooi, Dot Cameron, ‘n onderwyseres op pad na haar werk gevolg, en homself voorgestel. Hy het haar by die skool gaan aflaai en later van tyd gereeld gaan haal ook. Vier-en-vyftig jaar gelede is hulle getroud.

Hy was altyd baie lief vir sy vrou en trots op sy kinders. Hy het ook sy ma, wat 102 jaar oud geword het voor sy oorlede is, mooi versorg en was baie lief vir haar. Sy mopshonde was baie na aan sy hart en hy het getrou donasies aan die Dierebeskermingsvereniging geskenk. Ander instellings soos Kansa het ook gereeld by skenkings gebaat.

“Hy was egter iemand wie se linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie en hy het nie te koop geloop met sy welsynsbydraes nie,” vertel Dot.

Sy vertel dat hy nie ‘n skelm haar op sy kop gehad het nie, en baie netjies op sy persoon was, asook by die werk. “Alles by die huis moes ook netjies en skoon wees, en as my hare gekap is sou hy dit altyd raaksien en ‘n aanmerking maak. Sy ma het hy soos goud behandel, hy was baie lief vir haar.”

Sy grootste lekker was waarskynlik om by sy plaas in die soet Bosveld by Baltimore, waar hy reeds vir 43 jaar geboer het saam met Dot, uit te span.

Later jare was hy gereeld naweke op die plaas Hartenbosch, vanwaar hy op agt plase van gesamentlik 10 000 ha ’n speenkalfboerdery bedryf het. Daar was ook wild en later skape. Dot het die plaas in 1975 van haar pa geërf en daarmee saam 25 Afrikanerkoeie sonder ‘n bul. ’n Bul is gekoop en hulle het die bestaande hartbeeshuisie met ’n paar likkewane in die plafon gedeel.

Dié was later troeteldiere. Die egpaar het die meeste van die plase met verdrag aangekoop om die boerdery uit te brei.

Eli Ströh laat sy vrou, Dot, ‘n suster, Pops Taylor in Tzaneen wat amper 90 jaar oud is agter, asook vier kinders: Eli (jnr.), Aggie, Jan en ‘n dogter, Sharon Coetzer, drie skoondogters en ‘n skoonseun asook 11 kleinkinders.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version