‘n Groot gees in plaaslike eiendomsbedryf, Eli Ströh, sterf

‘n Mensmens wat baie lief was vir die natuur, ‘n vooruitstrewende sakeman en iemand waarmee enige persoon lekker saam kon kuier. Dit is hoe familie en jarelange vriende die bekende besigheidsman in die plaaslike eiendomsbedryf, Eli Ströh, wat Sondag in die ouderdom van 80 aan kanker oorlede is, onthou. “Ek het Ströh in 1978 op …

‘n Mensmens wat baie lief was vir die natuur, ‘n vooruitstrewende sakeman en iemand waarmee enige persoon lekker saam kon kuier.
Dit is hoe familie en jarelange vriende die bekende besigheidsman in die plaaslike eiendomsbedryf, Eli Ströh, wat Sondag in die ouderdom van 80 aan kanker oorlede is, onthou.
“Ek het Ströh in 1978 op ‘n jagplaas buite die stad ontmoet. Hy het die vorige dag bosvarke gejag en ek sal nooit vergeet hoe hy vroegoggend daar aangekom het en vir ons elkeen ‘n yskoue bier in die hand gestop het nie. Hy was ‘n goeie vriend en ons het goeie tye saam gehad,” sê Peet van Zyl, voormalige radioloog.
Voormalige stadsklerk, Attie Vermaak ken vir Ströh sedert 1969 en sê hy het diep spore in die eiendomsbedryf getrap. “Ek sal hom as ‘n vooruitstrewende sakeman onthou. Hy was ‘n gawe man, maar kon net so hardekwas ook wees. Die stad het een van sy seuns verloor en ek wens sy familie alle sterkte toe.”
‘n Groot naam in die plaaslike eiendomsmark, Theo Goosen, was Ströh se leermeester. “Sy ma het vir my gewerk en ek het hom genader om ook vir my te werk. Ek het al my kennis van die eiendomsbedryf met hom gedeel en ongeveer twee jaar later in 1968 het hy sy eie eiendomsmaatskappy gestig.”
Al was die twee opposisie vir mekaar was daar nooit kwade gevoelens tussen hulle nie. “Ons het mekaar gerespekteer, soms saam veilings hanteer. Ströh het baie vir die plaaslike eiendomsmark beteken. Hy was ‘n eerbare, toegewyde en hardwerkende mens,” sê Goosen.
Ströh het oor die jare Eli Ströh Property Services and Auctioneers uitgebrei na ‘n vooruitstrewende maatskappy wat tans eiendomme verkoop en verhuur, eiendomsontwikkeling hanteer, veilings behartig en eiendoms­waardering doen.
Ströh se seun, Eli jr, kan onthou hoe sy pa hulle as kinders wildtuin toe gevat het en op uitstappies geneem het om te jag en vis te vang. “My pa was baie lief vir die natuur, ‘n gesellige mens wat ook baie hard gewerk het.”
Ströh laat sy vrou, Dot, kinders Eli, Jan, Aggie en Sharon en tien kleinkinders agter. ‘n Roudiens word môre (Vrydag) om 11:00 van­uit die NG Kerk Noordgemeente in Dorpstraat gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version