Heli-ongeluk – Weersprekende inligting as leuenagtig afgemaak

Francois Brits, en sy seun, Maarten wat verlede Saterdag beseer is toe die helikopter waarmee hulle op ’n pretvlug was, ‘n noodlanding moes uitvoer, is uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan. Tydens ‘n gesprek met Polo­kwane Observer maak hy be­werings wat op die voorblad van ‘n plaaslike koerant gemaak is oor die omstandighede …

Francois Brits, en sy seun, Maarten wat verlede Saterdag beseer is toe die helikopter waarmee hulle op ’n pretvlug was, ‘n noodlanding moes uitvoer, is uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan.
Tydens ‘n gesprek met Polo­kwane Observer maak hy be­werings wat op die voorblad van ‘n plaaslike koerant gemaak is oor die omstandighede waaronder die voorval plaasgevind het, as leuenagtig en ongegrond af.
Die noodlanding wat hy sogenaamd op Snymansdrift, waar die Mighty Men-konferensie ook plaasgevind het, met die Bell 206L-4 LongRanger IV helikopter gemaak en hul almal se lewens gered het, het hy ten sterkste ontken en as vals afgemaak. “Die feit dat almal lewend uit die helikopter gekom het, is net aan die genade van God toe te skryf,” sê Brits en het ook bevestig dat sy vrou, Isabel, beslis nie in die helikopter was tydens die voorval nie. “Ek kan nie vlieg nie en daar was net plek vir sewe persone. Ek weet nie waar mense wat die bewerings maak, aan hul vals inligting gekom het nie,”

Francois Brits is beseer toe ‘n helikopter verlede Saterdag ‘n noodlanding op sy plaas uitgevoer het.

Volgens Brits het die helikopter op ‘n hoogte van 1 200 voet (ongeveer 400 m) skielik begin tol en die vlieënier moes dit in outomatiese rotasie plaas en die noodlanding uitvoer. “Ek het voor langs die vlieënier gesit en my seun, Maarten, reg agter my. Ek het drie ribbes gebreek en harsingskudding opgedoen en Maarten het sy bladbeen gebreek. Ons is nog ongemaklik maar dit gaan baie goed met ons.” Brits se vriend en een van die organiseerders van die Mighty Men-byeenkoms, Hein Snyman, het ook aan Polokwane Observer bevestig dat die bewerings oor Brits se vaardigheid as vlieënier wat in die berig aan hom toegedig is, van alle waarheid ontbloot is. “Ek het nooit so ‘n stelling aan die koerant gemaak nie en het reeds aangedring dat ‘n regstellende berig in die betrokke publikasie geplaas word.”
Die helikopter is gehuur om die hoofspreker by die Mighty Men-byeenkoms, Angus Buchan, verlede Sondag van en na die Polokwane lughawe te vervoer aangesien hy met ‘n privaatvlug van Greytown na Polo­kwane gevlieg het. “Die vlieënier het egter besluit om reeds Saterdagoggend na Polokwane te vlieg en in die verrigtinge te deel deel. Hy het Brits, sy familie en vriende genooi om die pretvlug mee te maak,” sê Snyman.
Die helikopter met registrasienommer ZS-REG is onherstelbaar beskadig en Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid (BLO) het verlede Woensdag bevestig dat die ongeluk ondersoek word, maar kon nie aandui wanneer dit afgehandel sal wees nie.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version