Local NewsNews

Boelies in die werksplek

Boeliegedrag is nie net beperk tot tussen skoliere nie, dit vind onder volwassenes ook plaas.

POLOKWANE – Review het met Coenraad Geldenhuys, Hoof Uitvoerendebeampte en eienaar van Platinum HR Solutions, oor boelies in die werksplek gesels.

Coenraad Geldenhuys, Hoof Uitvoerendebeampte en eienaar van Platinum HR Solutions, gesels oor boelies in die werksplek. Foto: Verskaf

“In die werksomgewing verwys ons na boeliegedrag as viktimisering. Dit gebeur gewoonlik wanneer een werknemer op ‘n ander werknemer pik of onregverdig hanteer of gestraf,” verduidelik hy.

Viktimisering sluit in gedrag soos om vir mense te lieg en hulle dan dom te laat lyk, die verspreiding van skinderstories en kwaadaardige gerugte, intimidasie om die slagoffer minderwaardig te laat voel of selfs openlike en bedekte dreigemente, gedrag en kommunikasie wat vrees skep.

Boelies kan ook kollegas uitstoot en ignoreer en dus ontken dat die slagoffer van waarde is.

“Viktimisering kan plaasvind as gevolg van verskeie redes. ‘n Moontlike rede is dat die persoon wat die ander werknemer viktimiseer nie goed met daardie persoon oor die weg kom nie en uiteindelik poog om die werksomstandighede vir die persoon wat geviktimiseer word so onaangenaam te maak dat die persoon heel waarskynlik besluit om te bedank, met ander woorde, om hulle uit te werk.”

Geldenhuys vertel dat viktimisering onder volwassenes op verskeie maniere kan plaasvind soos om ‘n sekere werker progressief te dissiplineer sodat die persoon uiteindelik ontslaan kan word.

“In nog ‘n voorbeeld kan ‘n voorman een werknemer uitsonder om al die harde fisieke, vuilwerk of onaangename werk te doen. Met ander woorde, die voorman hanteer nie al die werkers dieselfde nie. Dit kan ook gebeur dat een werknemer deur die ander voorgetrek word vir watter rede ookal. Die ander werknemer in so ‘n situasie word dan benadeel en dit is dus ook ‘n vorm van viktimisering.”

Die eienskappe van persone wat ander viktimiseer in die werksplek gaan gewoonlik met die van ‘n senior persoon wat in een of ander magsposisie in die werksplek is gepaard. Waar dit nie die geval is nie, kan dit byvoorbeeld ook ‘n jaloerse kollega wees met wat nie goedgesind teenoor ander is nie. Dit kan ook ‘n manlik-vroulik situasie wees waar die een aangetrokke tot die ander is en daarom medewerkers byvoorbeeld minder goed of gelykwaardig goed behandel.

Tekens van viktimisering:

• Ongelukkigheid in werksplek as gevolg van omstandighede.

• Konflik tussen kollegas.

• Gereelde klagtes of griewe vanaf een kollega teenoor ‘n ander by bestuur.

“In sekere gevalle kom die persoon wat viktimiseer word nie na vore nie uit vrees vir die persoon wat hom of haar viktimiseer en ook omdat die persoon vrees dat hy of sy in die moeilikheid gaan kom by die werkgewer.”

Die persone wat geviktimiseer word kan enige persoon wees, dit kan wissel van introvert tot ekstrovert. Dit is nie noodwendig ‘n spesifieke tipe persoon nie. Dit kan ook gebeur waar persoonlikhede eenvoudig bots met mekaar. Elke werksomgewing het ‘n unieke kultuur en benadering teenoor mekaar tussen kollegas.

Volgens Geldenhuys word viktimisering in die werkplek as ernstig hanteer.

“In die wetgewing word dit hanteer as onbillike arbeidsprsktyk en kan tot ernstige nagevolge lei vir die werkgewer indien die werkgewer ‘n werknemer ontslaan het en daar vasgestel word dat dit viktimisering was. Só, byvoorbeeld, kan die persoon heraangestel word met vergoeding terugbetalend vanaf datum van ontslag. In die wetgewing word verwys na die kode vir goeie gedrag, skedule agt van die wet op arbeidsverhoudinge wat riglyne is vir die regverdige, gelyke en konsekwente hantering van werkers wanneer dissiplinêre optrede teenoor werkers toegepas word.”

Hoe kan dit voorkom word:

• Sorg vir oop kommunikasiekanale tussen werkgewers en werknemers.

• Die persoon wat viktimiseer word moed bewus wees daarvan dat dit aangegee kan word en wel teen opgetree kan word.

• Viktimisering kan hanteer word deur die griewe prosedure wat die maatskappy intern het.

Persone wat hulle skuldig maak aan viktimisering kan gedissiplineer word deur die werkgewer.

“Dit is belangrik om te onthou dat dissiplinêre optrede vir wangedrag, en in die geval viktimisering, progressief moet wees en wanneer dit misluk kan ontslag oorweeg word omdat dit bevestig dat progesssiewe dissiplinêre optrede teenoor die oortreder onsuksesvol was en dat die dissiplinêre poging om die oortreder se gedrag te korrigeer of reg te stel misluk het.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button