Hansie-hoof se blou vlam lei hom op sy lewensreis

Na meer as 40 jaar in die onderwys is dit nou tyd vir Skoolhoof George Klopper om te groet.

MOKOPANE – Klopper (64) lê op 26 April die leisels neer as hoof van Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong waar hy die afgelope 16 jaar diep spore getrap het.

Dit is moeilik om totsiens te sê, maar hy sien uit na sy nuwe lewensreis.

George Klopper het sy deel op die skoolterrein en op die sportvelde gedoen. Hier gesels hy by die Mauritz Hansen Rugbyweek.

“Ek woon eintlik in Polokwane maar bly deur die week hier op die skoolterrein. My vrou, Renita, het ‘n kleuterskool en ons sien mekaar te min. Ek gaan nie ophou werk nie. Ek tree eintlik nie af nie, ek tree net iewers anders aan weg van die onderwys. Ek is nog nie oud genoeg om weg te bly van werk af nie.”

Klopper is ook ‘n trotse pa van drie seuns wat geduldig wag vir die dag wanneer hy kan oupa speel.

Hy en Renita beplan om teen 2019 in ‘n huis op die strand aan die kus van Namibië of in die Strand, Wes-Kaap te vestig.

Mokone du Preez van Mokone OK Naboom het ‘n lang pad saam met George Klopper gestap as amptelike borg van die skool.

Klopper het as kind in Delmas grootgeword en by Hoërskool Sasolburg in Sasolburg matrikuleer. Hy spog met ‘n BA-graad in onderwys met aardrykskunde/geografie as vakke, ‘n B.Ed-graad in opvoedkunde en ‘n Hoër Onderwys Diploma in onderwysbestuur. Hy is altesaam vir 40 jaar betrokke in onderwys en is ook glad nie skaam om sy passie op veral die rugbyveld te wys nie.

“Ek het by Hoërskool Standerton begin skoolgee in 1978 en as jong man in die siekekamer gebly tot ek die koshuisvader geword het. Ek het daar aardrykskunde vir gr. 11-en gr. 12-leerders aangebied. Ek was vir vyf jaar deel van die skool, van die Oos-Transvaal atletiekbestuur en ek het ook die eerste-rugbyspan afgerig. Snaaks genoeg was daar ‘n tekort aan hande om die kadetorkes te hanteer en ek het dit ook sommer gedoen,” lag hy. Vanaf daar het hy aangesluit by Hoërskool Pietersburg (PHS) in 1983 waar hy vir 20 jaar deel was van die skool. Benewens klasgee, het hy atletiek afgerig en was rugbyorganiseerder vir die eerstespanne.

Tydens vanjaar se Mauritz Hansen Rugbyweek is ‘n trofee aan George Klopper oorhandig vir sy jarelange betrokkenheid by dié gewilde rugbyweek. Johan de Beer (Beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Hans Strijdom) oorhandig die trofee.

Later word hy bevorder tot adjunk-hoof, waarna hy in 2003 hoof van die Hansies word. Klopper spog met die feit dat hy nog nooit ‘n druipeling in sy vak gehad het nie en dat al die leerders gewoonlik bo 45% behaal het.

Wanneer hy groet gee hy nie net sy posisie as skoolhoof op nie, maar ook as hoof van die gewilde Mauritz Hansen Rugbyweek. As Stormer-ondersteuner lê rugby na aan sy hart. “Ek was vir 16 jaar hoof van die Hansieweek en ek sal nooit vergeet toe PHS se eerstespan in 2001 die rugbyweek gewen het nie. Ek is gek oor sport.”

Hoewel Klopper bekend is in skoolgeledere, het hy ook vir 14 jaar karate afgerig en is hy lief vir tuinmaak. “Een van my seuns het karate gedoen en dit is hoe ek daarby betrokke geraak het.” Hy en Renita geniet dit ook om te reis en het hulle al lande soos Hongarye, Portugal, Duitsland, Phuket en Taiwan besoek.

Klopper beskryf homself as nederig, maar ook prestasiegedrewe. “As jy kyk na my rugbyspanne sal jy sien ek was altyd kompeterend. Ek probeer om altyd dieselfde mens te wees hetsy ek by die skool of by die huis is. Ek weet ek kan soms krities op myself wees, maar dit is hoe ek presteer en seker maak dat die regte dinge gedoen word.”

Klopper vertel dat hy dinge soos roetinewerk, daaglikse interaksie en die groei van die leerders op die banke sal mis. “Nie een dag was dieselfde nie. Dit is wat onderwys opwindend maak. Ek gaan dit ook mis om te help om die leerders se probleme op te los.”

Klopper sê hy geniet dit ook as oud-leerders vir hom kom vertel watter invloed hy op hulle lewe gehad het en wat hulle bereik het.

“Die onderwysers het my vreeslik verbaas en almal werk as familie eerder as kollegas saam.”

Hy sê dat daar wel oomblikke is wat hy nie sal mis nie soos die departement se gesloer met sekere dinge en die inmenging van ouers.

Chris de Wet, bekend as Mnr. Spikkels by die skool, sal waarneem. Klopper meen dat tot dusver het die skool dit reggekry om Christelike waardes uit te leef en hoop hy dat dit so sal bly. Hy lag wanneer hy sê dat hy glo om ‘n reguit pad in die lewe te stap hoef jy nie baie slim te wees nie. “Jy moet net goed kan onthou. Ek sê so want eendag as jy dalk gelieg het, moet jy kan onthou om nie ‘n ander leun bo daardie een te vertel nie.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version