Bosveld NewsNews

Motors nou Lyndon se passie

Hier in die hartjie van die Bosveld werk een van die land se bekendse Olimpiese Spele goue medaljehouers.

MOKOPANE – Lyndon Ferns (34), oud-Olimpiese goue medalje swemmer, is die Handelaarshoof van Unitrans Ford Mokopane. “Hoewel ek ‘n sagte plekkie vir my geboortestad, Polokwane, het en daar saam met my vrou, Jacqueline woon, geniet ek my werk hier. Ek is al ‘n hele rukkie deel van die Unitrans-groep en het na Mokopane gekom toe Ford oorgekoop is.”

Lees ook: Jaqueline, meer as net ‘n boetiek-eienaar

Ferns vertel dat hy nie meer ‘n vinnige vis in die water is nie. “Ek swem glad nie meer sedert ek in 2011 besluit het om op te hou swem. Ek mis dit glad nie. Ek het aanbeweeg na my volgende passie wat nou my werk is. Dit wat ek deur my sport geleer het, pas ek ook by die werk toe. Dit hou my kop bo water.”

Lyndon was reeds van die ouderdom van sewe al ‘n talentvolle swemmer wat verskeie swemrekords opgestel het. “Van daardie rekords staan 28 jaar later steeds. Ek het daarna nie so goed gedoen nie, maar toe ek 16 word moes ek besluit of ek van my swem ‘n sukses gaan maak of nie.”

Lyndon het tydens die 2004 Olimpiese Spele in Athene, Griekeland as deel van die Suid-Afrikaanse mansspan in die 4×100 m vryslagaflos gesorg vir ‘n wêreldrekord en ‘n goue medalje.

Ryk Neethling, Lyndon Ferns, Roland Schoeman en Darian Townsend spog met hulle goue medaljes by die 2004 Olimpiese Spele in Athene, Griekeland. Links: Lyndon Ferns is nou die Handelaarshoof van Unitrans Ford Mokopane.

Ryk Neethling, Roland Schoeman en Darian Townsend was sy aflosmaats.

In 2007 gedurende die Wêreld-swemkampioenskappe in Melbourne, Australië, het Lyndon die eerste swemmer uit Afrika geword wat die 100 m vlinderslag onder 0:52 kon swem en het hy ook sy eie Afrikarekord met ‘n tyd van 0:51,9 verbeter.

Tydens die 2008 Olimpiese Spele in Beijing, Sjina het hy ‘n Afrikarekord in die 100 m vryslag met ‘n tyd van 0:48 geswem en ‘n jaar daarna het Lyndon die eerste mansswemmer uit Afrika geword wat die 100 m vryslagitem in minder as 0:48 kon swem. Hy het dit voltooi in 0:47,79 sek en hou steeds die rekord.

Lyndon was onlangs tydens die Mauritz Hansen Rugbyweek op Mookgophong die gasspreker waar hy die volgende gesê het: “Ek word baie keer die vraag gevra oor wat dit verg om ‘n Olimpiese goue medalje te wen. Ek het talle kere geleer dat talent alleen nie genoeg is om jou suksesvol te maak nie. Na skool het ek talle geleenthede gehad wat ek aangepak het en ek het besluit om uit my gemaksone te klim.

“Ek het deur hard te werk en myself van drank, dwelms en aardse dinge af te sluit bo uit gekom. Dit is nie net talent wat jou die beste maak nie, maar ook die hoeveelheid werk wat jy insit vir daardie talent.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button